Inwoner maak meer as 2 000 gesigmaskers

Sy maak selfs kleiner maskers wat beter op jonger kinders se gesigte pas.

Alhoewel daar heelwat verskillende opinies is oor die dra van maskers om die verspreiding van die koronavirus te voorkom, bleik dit dat mense dit tog verkies om maskers te dra, veral wanneer hulle in die openbaar beweeg.

Dié keuse het ‘n inwoner van die dorp aan die werk laat spring en sedert dit bekend geword het dat Covid-19 ook Suid-Afrika getref het, het Elsie Minnie (62) onophoudelik maskers gemaak.

Sy sien haar daad as ‘n diens aan die gemeenskap maar sy verdien ook ‘n inkomste aangesien sy al vir jare naaldwerk as ‘n beroep beoefen.

Aanvanklik het sy gedink dat sy net 200 maskers sou maak, om te sien of sy dit van die hand kon sit.

Toe die Herald Maandag met haar gesels het, het sy die 2 000 merk verby gesteek.

“Niemand het my eintlik gevra om vir hulle ‘n masker te maak nie, maar ek het gedink dat ‘n materiaal masker, wat ‘n mens kan was en weer gebruik, handig te pas sou kom,” het Minnie gesê.

“Ek het op Facebook aangedui dat ek materiaal maskers in voorraad het en vandaar het die bestellings ingestroom.

Elsie Minnie spandeer baie tyd agter haar naaldwerkmasjien maar sy geniet elke oomblik.

“Ek het bestellings van besighede, hospitale en individue ontvang en toe moes ek met mag en mening aan die werk spring,” het Minnie vertel.

Haar seun, Andries (32), wat nog nooit met ‘n naaldwerkmasjien gewerk het nie, het baie vinnig geleer en ewe fluks gehelp stik.

Minnie se man, Dries (65) moes ook inspring, alhoewel hy verkies om maar liewer uit sy vrou se naaldwerkkamer te bly.

“Dries was eintlik die pakker. Hy het die maskers in plastiese sakkies verpak en hy het ook die rek, wat aan die maskers gewerk word, in presiese lengtes gesny,” het Minnie gesê.

Twee buurvroue, Karin Martins en Hannie Cornelius, asook ‘n vriendin Alberta Cloete, het ook hand gaan bygesit toe die bestellings aanhou instroom.

“Dit neem my nou sowat 15 minute om ‘n masker te voltooi maar in die begin het dit bietjie langer geneem.

Minnie se maskers is kleurvol en sy maak selfs kleiner maskers, wat beter op jonger kinders se gesigte pas.

“Ek is beslis nie ‘n kenner wat die koronavirus aanbetref nie, maar ek dink tog dat dit beter is om voorkomend op te tree,” het Minnie gesê.

Sy vertel dat sy, omdat sy naaldwerk doen, gelukkig genoeg materiaal gehad het om die maskers te maak.

“Die rek het egter opgeraak en ek moes inderhaas ‘n plan maak om meer rek in die hande te kry, maar ek kon darem daarin slaag.”

Wanneer sy nie besig is om maskers te maak nie, maak sy skoolboek sakkies, haarrekkies (scrunchies) vir skoliere, gordyne, trourokke en matriekafskeidsrokke.

Daar is inteendeel niks wat sy nie met haar naaldwerkmasjien kon optower nie.

“Ek doen al vir sowat 30 jaar naaldwerk en ek geniet dit.

“Die maskers is iets wat sal kom en gaan, maar vir solank ek kan sal ek agter my naaldwerkmasjien wees.”

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version