Die inperking gaan sy tol eis

Ek dink mense is maar bang en onseker.

Die algehele landswye afsondering of inperking wat vanaf Vrydag ’n werklikheid geword het, hou verrykende gevolge vir die land in, maar ook vir die gewone man op die straat.

Dit is veral die persone wat geen of min inkomste het en daagliks ’n sukkelbestaan voer wat die ergste geraak gaan word deur die inperking.

Die Herald het verlede Donderdag, ’n dag voordat die inperking in werking getree het, met sommige van die mense wat erg geraak gaan word, gepraat.

Cecil Griesel (63) is geen onbekende gesig in die dorp nie.

Cecil Griesel, wat sy klein pensioen aanvul deur leergordels te verkoop, is bekommerd oor die impak van die Koronavirus op die land.

Hy verkoop reeds vir die afgelope agt jaar veral leergordels vanuit ’n sleepwa wat hy daagliks in Athlonelaan parkeer.

Soos baie ander sal hy, tot die beëindiging van die algehele inperking, nie op sy pos kan wees nie.

“Ek verkoop die leerprodukte om die klein pensioen wat ek ontvang aan te vul.

“Ek is deeglik bewus van die inperking en sal natuurlik by die reëls hou al gaan ek vir die volgende drie weke niks kan verkoop nie,” het Cecil aan die Herald gesê.

“Ek wil beslis ook nie siek word nie en verkies dit om verantwoordelik op te tree,” het hy bygevoeg.

Cecil het ook gesê dat die publiek in die dae voor die aankondiging van die inperking baie minder by hom stilgehou het.

“Ek dink mense is maar bang en onseker,” het hy gesê.

Hy het egter die versekering gegee dat hy weer op sy pos sal wees sodra die inperking opgehef word of wanneer hy voel dat dit vir hom en sy kliënte weer veilig sal wees om besigheid te doen.

Die aantal bedelaars en hawelose mense in die dorp het die afgelope tyd ook toegeneem en dié mense, wat afhanklik is daarvan om te bedel, se vlerke is ook geknip.

Een so ’n persoon, wat Donderdag haar kommer uitgespreek het, is Tessa Cummins (50) wat gereeld in die Dalview omgewing by verkeersligte of op straathoeke bedel.

Tessa het vertel dat sy ’n beroerteaanval gehad het en dat dit vir haar nie moontlik is om te werk nie.

Lees: KYK: Mense staan in ellelange toue om kos te koop

Sy het ook aangedui dat sy deeglik bewus is van die koronavirus en die inperking.

“Ek het geen idee wat ek gaan doen nie. Ek het darem ’n blyplek, maar ek bedel elke dag sodat ek geld kan kry om kos te koop,” het sy gesê.

“Ek is baie bekommerd en ek weet dat daar nou baie mense sal wees wat elke dag honger gaan wees.

“Maar ons moet seker van die strate af bly, want anders gaan ons in die moeilikheid kom,” het sy gesê.+

Tessa Cummins bedel daagliks om sodoende kos te kan koop. Sy het gesê dat sy nie weet wat sy gaan doen nie.

Philip Mthimku (25) was verlede Donderdag ook ’n bekommerde man.

Sy enigste bron van inkomste is verkoop van klein hang ornamente, wat hy self maak.

Hy het Donderdagoggend op die sypaadjie gesit en verbete gewerk om ekstra hang goed te maak, in die hoop dat hy alles sou kon verkoop.

“Hierdie is die laaste dag dat ek kan geld maak, want ek weet ons kan nou vir drie weke nie buite wees nie,” het hy vertel terwyl hy nie vir een sekonde ophou werk het nie.

Philip het gesê dat hy in Benoni woon, maar dat hy na Brakpan reis aangesien die mense hom al ken en omrede hy sy goedere makliker van die hand kan sit.

“Ek weet net nie of mense vandag (verlede Donderdag) my goed gaan koop nie, want ek dink almal sal eerder kos wil koop,” het hy gesê.

Philip Mthimku verkoop kreatiewe hang ornamente wat hy self maak.

John Brummer en Yolandi van der Vyfer verkoop daagliks boereworsrolle by ’n bekende slaghuis in die dorp.

John het gesê dat die inperking beslis sy tol gaan eis.

“Hierdie is ons werk. Dit is ons inkomste. Hierdie ding gaan beslis aan ons kou,” het John gesê.

Nog ’n persoon wat in dieselfde bootjie sit is Moses Shabalala (25) wat verlede Donderdag met ’n grassnyer en ’n kantsnyer op pad was na ’n woning in Dalview.

“Ek doen al vir drie jaar tuine. Ek het ’n paar mense wie se tuine ek gereeld doen en ek hoop maar hulle sal vir my kan help, maar niemand is vandag by die huis nie en van môre af kan ek nie meer rondloop nie.

“Ek weet regtig nie wat ek gaan doen nie. Ek het ’n vrou en drie kinders. My vrou doen ook los werk, maar nou kan sy dit ook nie meer doen nie.

Die kinders gaan huil as hulle nie kos kry nie. Hierdie siekte gaan mense ook dood maak van die honger,” het Moses gesê voordat hy op ’n drafstap gehaas het na waar ook al.

• Die publiek word aangeraai om die koronavirus-hulplyn te skakel by 0800 029 999 wanneer daar enige vermoede oor ’n koronavirus geval is.

Kennisgewing:

Koronavirus verslaggewing deur Caxton Local Media poog om fopnuus te kniehalter

Beste leser

As jou plaaslike nuusverskaffer is dit ons plig om jou ingelig te hou van alle feite rakende Covid-19. Baie fopnuus doen die rondte aanlyn. Caxton Local Media werk gedetermineerd deur massas beskikbare inligting met die doel om waarheid van leuens te onderskei. Sodoende hou ons jou ingelig.

Ons plaaslike nuuskantore volg ’n streng protokol wanneer dit kom by nuuswerwing en publikasie. ’n Nasionale taakspan is daargestel om seker te maak dat jy geloofwaardige nuus oor die koronavirus kry.

Lesers met navrae of kommentaar kan ons nasionale groepredakteur, Irma Green (irma@caxton.co.za) of regsadviseur Helene Eloff (helene@caxton.co.za) kontak.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version