Gebarste geiser laat bejaarde vir maande sonder warm water

Wanneer die ketel vol water is, is dit swaar en ek loop ook moeilik.

‘n 95-Jarige inwoner van die woonstelblok in die Tweedy Park  Kompleks sit al vir die afgelope vyf maande sonder warm water nadat die geiser in haar woonstel  gebars het.

Die woonstelblok is die eiendom van die Stad van Ekurhuleni en volgens inligting is daar blykbaar 14 geisers in die woonstelblok wat buite werking is.

Hester Botes woon die afgelope 10 jaar in haar woonstel op die vierde verdieping.

Sy het aan die Herald vertel dat sy  geen ander keuse het as om water in ‘n ketel kook om te kan bad nie.

“My ketel is in die kombuis en dit was vir my moeilik om met die ketels vol kookwater na die badkamer te loop. Wanneer die ketel vol water is, is dit swaar en ek loop ook moeilik.

“Ek het toe ‘n verlengingskoord gekry sodat ek die ketel op ‘n kassie naby die badkamer kan kook,” het sy gesê.

“Die probleem is net, sodra die ketel weer gekook het is die water wat ek in die bad gegooi het klaar koud. Dit is maar ‘n groot gesukkel,” het sy gesê.

“Ek moet ook water kook wanneer ek my skottelgoed moet was,” het sy bygevoeg.

“Dan moet ek weer die ketel na die kombuis neem om dit te kan doen.”

Die Demokratiese Alliansie (DA) se raadslid vir wyk 97, rdl Brandon Pretorius is bewus van die dilemma het reeds besoek gebring aan tannie Botes (soos sy bekend staan).

Pretorius het gesê nadat hy die behuisings afdeling van Ekurhuleni gekonfronteer het, is daar vasgestel dat die klagte oor die geiser reeds in November 2019 ontvang is.

“Verdere ondersoek het  ook aan die lig gebring dat ongeveer 14 geisers in die woonstelblok vervang moet word.

“Na gesprekvoering met die betrokke amptenare is dit bevestig dat die oponthoud  in Germiston is en dat kontrakteurs wag vir papierwerk om afgehandel te word.

Hy het bygevoeg dat die Demokratiese Alliansie  (DA) in Brakpan die nodige druk sal  toepas om te verseker dat die geisers vervang word en dat die inwoners met die respek, wat hulle verdien, behandel word.

“Dit is duidelik dat daar nie net ‘n gebrek aan politieke wil is om bejaardes en afhanklike inwoners van Brakpan by te staan nie, maar dat daar ook ‘n gebrek aan menslikheid van die Ekurhuleni Metro se behuisings departement is,” het Pretorius gesê.

“Benewens voortdurende kwessies rondom instandhouding by die geboue, wat in munisipale besit is, het dit onder my aandag gekom dat dienslewering by hierdie geboue amper tot stilstand gekom het. Wanneer aksie  wel geneem word, neem dit maande,” het Pretorius bygevoeg.

Hy het ook bevestig dat ‘n besigheid in die dorp (wat anoniem wil bly) onderneem het om ‘n geiser te skenk om in Hester Botes se woonstel te installeer.

Die Herald het kommentaar van die Stad van Ekurhuleni gevra. Sodra dit ontvang word sal dit gepubliseer word.

Lees: Tweedy Park inwoners sé dankie

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version