Abraham groet sy geliefde skool na 51 jaar

Ek het duisende kindertjies sien kom en gaan, dit was baie spesiaal.

Een-en-vyftig jaar gelede, toe Abraham Nkadimeng as 20-jarige ’n werk by die Laerskool Môrewag gekry het, was hy baie dankbaar, maar in sy wildste drome het hy nooit gedink dat hy eers na 51 jaar sou groet nie.

Die vriendelike 71-jarige Abraham het verlede week finaal die skoolhek agter hom toegemaak, om na jare se getroue diens as tuinwerker en algemene hulp te gaan rus.

Hy onthou baie goed hoe ’n destydse sekretaresse van die skool (hy kan nie meer haar naam onthou) vir hom ’n werk as tuinier gereël het.

“Ek was maar 20 jaar oud en was baie dankbaar vir die werk. Ek het ook ’n blyplek by die skool gekry,” het Abraham vertel.

Alhoewel hy vir die meerderheid van sy diensjare verantwoordelik was vir die instandhouding van die skool se tuine en sportvelde het hy vir 17 jaar lank ook in die afrolkamer uitgehelp wanneer dit nodig was.

’n Afskeidsfunksie is vir Abraham Nkadimeng by die skool gehou waartydens hy die personeel en sy medewerkers kon groet. Hy het groot lof vir die hoof van die skool, Elna Venter (regs) en die onderhoof, Roleen Viljoen, gehad.

MEER FOTO’S: Getroue werknemer groet by die Laerskool Môrewag

Hy vertel trots dat hy baie goed geweet het hoe die afrolmasjien gewerk het en dat hy dit geniet het om ook dié taak te verrig.

Abraham het ook menige skoolkind in die skool se bussie na sportbyeenkomste vervoer.

“Ek het ook meer onlangs kinders van en na die skool vervoer,” het Abraham vertel.

“Omdat ek vir soveel jare ook op die perseel gebly het, het die skool eintlik maar my huis geword.

“Ek was baie gelukkig hier. Die kinders het respek vir my gehad en ek vir hulle.

“Die huidige hoof, mevrou Elna Venter, en haar span was ook baie goed vir my en ek het baie lekker saam met hulle gewerk,” het Abraham vertel.

Hy het amptelik in 2014 afgetree, maar is deur die skool in diens gehou.

“Nou is dit tyd vir my om te gaan rus. Hy en sy vrou, Anna, is in 1972 getroud en volgens Abraham is sy baie opgewonde om uiteindelik haar man permanent tuis, by hulle huis in Groblersdal, te hê.

Abraham was verlede week druk besig om die kamer waarin hy vir soveel jaar gewoon het te ontruim en skoon te maak.

LEES: Morries se uitblinkers ontvang erkenning

“Ek wil daardie plek baie mooi skoon los want dit is hoe ek is. Ek het die kamer gekry toe dit skoon was en ek wil dit so laat.

“Maar my vrou bel my die heeltyd en vra wanneer ek dan huis toe kom,” het hy geskerts.

“Ek het darem elke skoolvakansie en die laaste naweek van die maand huis toe gegaan, so ek het my vrou en kinders gereeld gesien.”

Gevra wat hy die meeste gaan mis, antwoord hy gou dat dit die mense en kinders sal wees wat deur die jare goed was vir hom en vriendelik was met hom.

“Ek was maar self ’n ‘laaitie’ toe ek hier begin werk het.

“Ek het duisende kindertjies sien kom en gaan. Dit was baie spesiaal,” het hy gesê.

Hy is ook baie trots op sy lang verbintenis met die skool.

“Om 51 jaar op een plek te werk is ’n goeie ding. Ek is dankbaar en gaan nou lekker rus,” het Abraham gesê.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts  (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

 For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter
Exit mobile version