Local newsNews

Tyd om die dorp se 100ste bestaansjaar te vier

Dis ongelooflik om die krag te sien wat in ’n gemeenskap opgesluit lê.

Die gemeenskap van Brakpan sal Saterdag die geleentheid kry om die dorp se 100ste verjaarsdag op gepaste wyse te vier.

Die AfriForum Brakpan-tak het in samewerking met Laerskool Môrewag, Sakeliga Oos-Rand, Secure Tech, SAINTS en heelparty besighede in die dorp saamgespan om die #BrakpanEeufeesBringEnBraai te laat realiseer.

Die vieringe word op die gronde van Laerskool Môrewag in Brenthurst gehou.

’n Potjiekoskompetisie, boeresport, braai, kuier, stalletjies, die berging van ’n 50 jaar tydkapsule asook lewendige vermaak beloof om van die hoogtepunte te wees.

Verskeie plaaslike en nasionaal bekende en opkomende kunstenaars gaan optree en sorg vir ’n lekker verskeidenheid.

EnKie, Jessy-Lee, Bjarné, Neen, Nick Neetlingh, en Jani gaan te sien wees op die verhoog.

Kyk: VIDEO: AfriForum herdenk dorp se 100ste bestaansjaar

“Dis ongelooflik om die krag te sien wat in ’n gemeenskap opgesluit lê, waar elkeen ’n beskeie bydrae lewer,” het Rudolf Herbst, AfriForum Brakpan se taksekretaris gesê.

“Borge vir braaiers wat aan die skool geskenk word, toerusting om ’n gat vir die tydkapsule te grou, pryse vir kompetisies, ’n trok as verhoog is maar enkele van die bydraes uit die sakelui van die dorp,” het Herbst bygevoeg.

“Ons nooi elke inwoner van die dorp uit om die geleentheid by te woon,” het hy bygevoeg.

Die tydkapsule, wat vir 50 jaar geseël sal bly, tot presies 30 November 2069, beloof om die dorp aan die gons te hou vir die volgende geslag.

“Ons nooi ook alle inwoners uit om solank hul herinneringe van Brakpan neer te pen en dit op Saterdag te gaan inhandig vir opname in ’n Eeufees joernaal en as deel van die tydkapsule,” het Gerhard Cilliers, takvoorsitter van AfriForum Brakpan gesê.

Die hekke sal om 1nm open en lewendige vermaak sal vanaf 3nm tot laat aangebied word.

Die parkering is gratis vir die eerste 200 voertuie. Daarna beloop die toegang R20 per voertuig, maar die toegang is gratis.

Geen alkohol sal op die perseel te koop wees nie en daar sal ’n R50 heffing op alle koelbokse gevra word.

Die publiek word versoek om stoele, ’n sonsambreel, piekniek komberse, braaigoed en eetgerei saam te neem.

Stalletjies vir handgemaakte goedere en tuisgebak sal beskikbaar wees.

Daar is ook afsetpunte by die AfriForum stalletjie vir die gewilde #BoksVirBoervrou projek en sakke mielies kan geskenk word ten bate van #Droogtehulp.

Meer inligting is beskikbaar op AfriForum Brakpan-tak se Facebookblad of rig navrae per WhatsApp aan 060 740 7444.

Lees ook: Dankie, AfriForum

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts  (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

 For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

Related Articles

Back to top button