Gewapende rowers slaan toe by skool

"Hy het my vingers in sy mond gesit in ’n poging om dit af te kry."

Vier rowers, waarvan twee met vuurwapens gewapen was, het Vrydagoggend by ’n skool toegeslaan en die personeel en leerders erg getraumatiseerd gelaat.

Die Eike Kunste- en Leersentrum in Dalview is ’n privaat skool wat onderrig bied aan ondermeer vyf gesiggestremde kinders en een dowe kind. Daar is altesaam 12 leerders aan die skool.

Die voorval was veral erg vir die blinde kinders aangesien hulle nie verstaan het wat besig was om te gebeur nie.

Anette Cloete (12) het vertel dat sy baie benoud geraak het toe sy net gevoel het hoe iemand haar aan haar arm vat.

“Iemand het my net gevat en vorentoe gestoot en toe moes ek op die mat gaan lê,” het sy vertel.

Die voorval het net na 11vm plaasgevind toe die hoof van die skool, Rosie Marks, by die voordeur stilgehou het om koeldranke wat sy aangekoop het in die huis (wat as ’n skool dien) te dra.

Lees ook: Vyf gearresteer toe rowers in Dalview gestuit word

“’n Helper was besig om die koeldranke uit my motor te dra en ek was in die kombuis besig om dit in die yskas te pak,” het Marks vertel.

Sy het ’n gil gehoor en toe sy omdraai het sy ’n vreemdeling in die gang gewaar.

“Die man het my beveel om te gaan lê, maar ek het aan hom gesê dat as gevolg van ’n heup probleem ek nie plat kon gaan lê nie.

“Hy het my daarna op ’n stoel neergedruk,” het Marks vertel.

In die eerste klaskamer is die onderwyser en kinders beveel om plat te gaan lê.

Twee blinde kinders wat by ’n tafel (naby dié klaskamer gesit het) is ook beveel om plat te gaan lê.

Marks se man, Jan (83), was in die biblioteek toe een van die rowers hom beveel het om ook te gaan lê.

“My man kom oor die weg met ’n loopraam en hy kon ook nie net sommer gaan lê het nie.

“Een van die rowers het hom gestamp, waarna hy geval het en in die proses het hy sy pinkie beseer,” het Marks vertel.

Intussen is een van die booswigte na die twee ander klaskamers waar die onderwysers gedwing is om hul juwele af te haal.

Anneke Schoeman (75) het vier leerders in haar klas gehad toe ’n rower met ’n vuurwapen haar genader het.

“Hy het vir die kinders gesê om op die mat te gaan lê en vir my het hy in ’n badkamer geforseer.

“Hier het die man haar beveel om haar juweliersware af te haal.

“Dit is baie sentimentele en kosbare stukke en ek kon nie my ringe vinnig genoeg na sy sin afkry nie.

“Hy het my vingers in sy mond gesit in ‘n poging om dit af te kry.

Lees ook: Huisrowers oorval bejaarde egpaar, kap man (80) met byl

“Dit was erg onaangenaam en ek het my hand weggeruk en self die ringe afgehaal.”

Die leerders het intussen onder hul tafels ingekruip, maar nietemin alles gesien en gehoor.

“Ek het alles gehoor en ek het ook gehoor hoe die man gesê het hy sal skiet,” het ’n 11-jarige leerder aan die Herald gesê.

Die rowers is na wat soos ’n ewigheid gevoel het vort met juweliersware, twee selfone, ’n skootrekenaar, ander items asook twee spesiale sakrekenaars wat gesiggestremde kinders gebruik.

Niemand is ernstig beseer nie.

Die Eike Kunste- en Leersentrum bestaan reeds vir die afgelope 20 jaar onder die bekwame leiding van Marks.

Die voorval word deur die Brakpan SAPD ondersoek.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts  (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

 For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version