Stoffies se hoofleiers is reg vir 2020

Die Hoërskool Stoffberg se hoofleiers is reg vir al die uitdagings wat 2020 kan bied.

Die Hoërskool Stoffberg het onlangs sy hoofleiers vir 2020 aangewys.

Kayla Borman is die hoofdogter en Tallie Giessing die hoofseun.

Dié twee leiers het vrae van die Herald beantwoord.

• Wat is die eerste ding wat deur jou kop gegaan het toe jou naam uitgelees is?

K: Die oomblik was so groot. Al waaraan ek kon dink was hoe dankbaar ek is vir die voorreg om die Hoërskool Stoffberg se hoofdogter vir 2020 te wees.

T: Die eerste ding wat deur my kop gegaan het was ’n gevoel van dankbaarheid en nederigheid. Ek het dit nie verwag nie want ons is ’n sterk leiergroep en elkeen het ’n kans gestaan.

Kayla Borman.

• Is dit ’n doelwit wat jy vir jouself gestel het?

K: Van die eerste dag wat ek in die skool ingestap het, was die hoofdogter en -seun van daardie jaar, Mecheila Else en Gerhard du Preez, vir my groot rolmodelle. Hulle het ’n groot impak op my lewe gehad en hulle liefde vir die Hoërskool Stoffberg aan my oorgedra. Ek het oor die jare so lief geword, nie net vir die skool self nie, maar vir elke onderwyser en onderwyseres ook. Die trots wat ek as ’n Stoffie het wou ek elke dag uitleef by die skool asook in die gemeenskap deur ’n ambassadeur vir Stoffberg te wees. Daarom het ek alles voluit gedoen om my droom te bereik om Hoërskool Stoffberg se hoofdogter te word.

T: Ja dit is iets wat ek graag wou bereik. Dit het begin toe ek in graad agt was en by die prysuitdeling gesien het hoe Duan van den Berg as hoofseun vir 2017 gekies was. Daar het ek besluit om hard te werk sodat ek ook daar kan staan.

• Wat maak van ’n mens ’n goeie leier en hoe gaan jy jou leierskap toepas?

K: Ek glo dat leierskap nie ’n titel of posisie is nie, maar ’n aksie en ’n voorbeeld. Om ’n leier te wees het ’n mens gewoonlik ’n rolmodel nodig. Ek glo dat as jy God jou rolmodel maak en in Sy voetspore volg, sal jy ’n uitstekende leier kan wees. Ek gaan my leierskap toepas deur ander te help om hulle gawes en talente raak te sien en dit te ontwikkel sodat hulle op hul beurt ook ander mense kan inspireer.

T: ’n Goeie leier is iemand wat almal respekteer, ’n voorbeeld stel en gemaklik kommunikeer. My doelwit is om hierdie eienskappe toe te pas deur voor te loop en die voorbeeld te wees van ons skool se identiteit.

• Daar wag ’n jaar vol verantwoordelikhede op jou. Waarna sien jy die meeste uit?

K: Ek sien verskriklik uit daarna om die nuwe graad agt leerders van volgende jaar te verwelkom. Saam met my mede DK-lede sal ek my beste gee om dit ’n onvergeetlike jaar te maak.

T: Elke dag is ’n geleentheid om te ontwikkel en te groei. Daar is soveel waarna ek uitsien maar in besonder sien ek uit daarna om saam met die DK-span deel te kan wees van die nuwe graad agt leerders se motivering en inspirasie vir hulle hoërskool loopbaan.

Tallie Giessing.

• Watter uitdagings gaan jou ’n kopseer gee?

K: Ek is nie regtig iemand wat bang is vir uitdagings nie en ek gaan dit dag vir dag vat en elke situasie hanteer tot die beste van my vermoë. Ons is ’n goeie span, en daarom weet ek dit sal ’n suksesvolle jaar wees.

T: Elke uitdaging is maar net nog ’n geleentheid. Om op die regte manier na uitdagings te kyk, op God te vertrou en staat te maak op my ondersteuningsnetwerk sal ons elke uitdaging oorwin.

• Hoe sal jy graag onthou wil word wanneer jy aan die einde van volgende jaar wegstap?

K: Ek sal onthou wil word vir my liefde en passie vir mense en dat ek ’n positiewe impak gelaat het op elke persoon met wie ek in aanraking gekom het.

T: Ek sal graag onthou wil word as iemand wat ’n godsdienstige lewe leef, ’n leier wat met nederigheid en respek ’n positiewe verskil kon maak.

• Wat maak die Hoërskool Stoffberg spesiaal?

K: As ek die Hoërskool Stoffberg moet opsom in een woord sal dit wees: Familie. Elke persoon kan hulself wees en hulle drome uitleef, maak nie saak hoe klein of groot dit is nie. Stoffberg se leuse is “Van krag tot krag” en hier leef ons dit elke dag.

T: Die kultuur by Stoffberg is besonders. Elkeen kry die geleentheid om sy/haar volle potensiaal te ontwikkel. Die onderwysers werk hard om elkeen gewaardeer en deel te laat voel. By Stoffberg is jy nie net in die skool nie, jy is familie.

• Wie is jou rolmodel?

K: My ouers is my grootste rolmodelle. Hulle het my geleer om myself te wees, voluit te lewe, en my drome na te jaag.

T: My grootste rolmodel is my pa. Dit wat ek is en bereik, is deur die fondasie wat my ouers in my lewe gelê het en die voorbeeld wat hy vir my stel. Hy het altyd tyd om raad te gee, hanteer almal met respek en verkondig die Here se naam in alles wat hy doen. Soos Adam Tas sê, “Here maak van my ’n man soos my pa.”

• Wat is jou gunsteling vak en hoekom?

K: My gunsteling vak is besigheidstudies. Dis baie interessant, en ek weet ek sal dit kan toepas vorentoe in my toekoms.

T: My gunsteling vak is rekeningkunde. Dit is beslis nie my beste vak nie maar ek geniet dit om probleme op te los en om met syfers te werk. Ek waardeer ook ons onderwyseres. Juffrou Fourie is streng maar sy gee om vir almal en wil net die beste hê vir elke leerder.

• Beskryf jouself in vyf woorde

K: Gedrewe, passievol, liefdevol, gelukkig, ekstrovert.

T: Hardwerkend, nederig, gedissiplineerd, opreg, gelowig.

Lees ook: VIDEO: Stoffies se Nadine spog met agt onderskeidings

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts  (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

 For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version