In die kollig: Leer vir Leandi Oelofse ken

Leer die mense in ons dorp ken.

Leandi Oelofse (12), ’n leerder aan die Sonneveld Akademie, is ’n talentvolle ruiter wat saam met haar ouers, André (50) en Sonja (44), en suster, Suane (20), in Boksburg woon.

Leandi Oelofse op haar perd, Wyatt West.

Hoe het jou belangstelling in perdry begin?

Ek was nog altyd lief vir perde en diere. Ek het gereeld perdeflieks gekyk. My ouma en oupa het my gevat vir ’n perdryles as terapie, omrede ek bietjie gesukkel het om maats te maak en om gefokus te bly. Iemand het ook voorgestel dat ek begin perdry. Perde is fantastiese diere. Hulle kan jou emosies aanvoel en hulle is goeie luisteraars. Ek kan enige tyd op my perd se rug sit en net gaan stap met hom en my hart uit praat.

Jy is een van die top ruiters in jou klas. Hoe lank beoefen jy al die sportsoort?

Ek ry al perd vir so drie jaar en ses maande.

Jy het onlangs aan die South African National Schools Association Kampioenskappe deelgeneem. Verg dit harde werk om aan so kompetisie deel te neem?

Ja, dis baie harde werk. Daar is baie ander kinders wat deelneem in soveel verskillende afdelings. Jy weet nooit hoe jou perd gaan wees op die dag nie, daarom moet jy gereeld oefen. Jy moet ook verstaan dat jy en jou perd ’n span is. As jou perd nie lekker voel of nie wil saamwerk nie, kan dinge skeefloop. Soms is jou perd 100 persent reg die dag en dan maak jy foute, so julle moet as ’n span saamwerk. Ons staan baie vroeg op om die perde reg te kry vir ’n kompetisie. Sy stert moet gevleg word, ons moet hulle roskam en seker maak alles is skoon en netjies. Tydens SANESA staan ek so 4.30vm op en ons kom nie by die huis tot omtrent 6nm nie. Dit tel vir Saterdag en Sondag se deelname. Ek staan elke dag van my lewe vroeg op en daar is nie tyd vir televisie nie. Jy moet bereid wees om baie opofferinge te maak, maar dis die moeite werd.

Om ’n ruiter te wees, is bekend as ’n duur sportsoort. Stem jy saam?

Dit is ’n duur sport. Jou perd moet spesiale voer kry, jy moet stalfooie betaal en jy moet inskrywingsgeld vir kompetisies betaal. Om jou perd te vervoer kos baie geld. Jou perd moet ook inspuitings kry om te keer vir African horse sickness. My ma sê altyd my perd se skoene kos meer in een jaar as wat sy al in haar lewe op skoene spandeer het. My ouers werk baie hard dat ek kan perdry en ek is dankbaar daarvoor.

Wyatt West is jou perd se naam. Het jy self die naam gekies of hoe het jy op die naam afgekom?

Nee, Wyatt is ’n oud-resiesperd. Sy vorige afrigter en eienaar het sy naam gegee. Meeste perde wat ons gebruik in hierdie sport kom van die resiesbane af en hulle name is dan reeds gekies. My ouers het Wyatt vir my so twee jaar terug gekoop. Ek het eers op ons ryskool se perde gery. Hy is vernoem na ’n cowboy, Wyatt West, en soms haal hy nog sy cowboy streke uit, maar hy is meestal liefdevol en baie lojaal teenoor my. Hy probeer my beskerm terwyl ons spring.

Ry enige van jou gesinslede ook perd?

Nee, maar my ma en pa is altyd by my en help my met die perde. My sussie is besig om te leer om ’n vlieënier te word. My ma sê sy klim nie op my perd nie en sy vlieg nie in my sussie se vliegtuig nie. Ek dink sy is bang. My oupa was wel ’n goeie ruiter.

Het jy al besluit wat jy eendag wil word?

Nog nie. ’n Mens se drome verander so ek het nog so bietjie tyd om te besluit.

Lees: Jong ruiter presteer uitstekend

Dink jy daar is hoop vir die jongmense van hierdie land?

Ja, ons moet hard werk en glo en vertrou. Jy gaan niks kry as jy nie daarvoor werk nie. Ons het ’n mooi land. Ons land het baie probleme, maar daar is baie goeie mense wat dit kan uitsorteer as ons almal saamwerk.

As jy een wens het wat bewaarheid sou kon word, wat sou dit wees?

Ek sal meestal hoop vir vrede in die wêreld. Dat daar nie oorlog sal wees nie en dat almal kos en huise sal hê.

Neem jy deel aan enige ander sport by die skool en dink jy dit is belangrik dat kinders aan sport deelneem?

Ja, dit is belangrik en ek doen skyfskiet vir die skool en ek neem ook aan kuns deel by die Allegretto en Conspirito. Ek het voorheen deelgeneem aan akro gimnastiek en in 2016 het ek en my sussie eerste gekom by die SA’s.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts  (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

 For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version