Brakpan 100: ’n Terugblik op die geskiedenis van die dorp

Brakpan vier in Augustus sy 100ste bestaansjaar.

Met die oog op hierdie mylpaal publiseer die Herald uittreksels uit die boek van Selby Webster, The Brakpan Story. Die boek handel oor die geskiedenis van die dorp.

Die gebied wat vandag as Brakpan bekend staan, het die gruwels van die Anglo-Boereoorlog vrygespring.

Die goudmyne van die Witwatersrand is nie beskadig nie en steenkool en elektrisiteit was steeds nodig.

Die steenkoolmyne en die kragsentrale het bly werk en die spoorweë is deur die Sentraal Suid-Afrikaanse Spoorweë oorgeneem.

Na die oorlog het die uitlanders na die myne teruggekeer en spoedig was die myne weer in volle produksie.

Die Traansvaal Coal and Trust Co het sy lisensie om vir goud te prospekteer aan die Eastern Exploration Co gesedeer, en as gevolg van dié se bevindinge, is die Brakpan Mines Co gevorm.

Die maatskappy het in 1905 begin mynskagte sink.

Mynwerkers ondergronds in die beginjare van die Brakpan-myn.

Mnr CS Brodigan was mynbestuurder.

Daar was steeds ’n tekort aan doeltreffender beheer in die gebied tussen Boksburg en Springs.

Maskell, die slim sakeman, het ’n beroep op Boksburg gedoen om ’n skut op te rig vir die bymekaarmaak van afgedwaalde beeste in die gebied, maar die versoek is geweier.

Later, toe Brakpan onder Benoni ingedeel is, is dié doel egter bereik.

Hy het ’n versoekskrif by die plaaslike posowerheid ingedien vir ’n permanente poskantoor en dit is toegestaan (by sy hotel) met mnr JR Wolfe as die eerste posmeester.

Hy is telefoon- en telegraafaanlegte by die poskantoor belowe, maar dit is eers heelwat later geïnstalleer.

Die eerste tekens van ’n permanente leefwyse het nou sigbaar geword.

Die steenkoolmyne en die kragsentrale het begin om permanente geboue en wonings vir hul werknemers op te rig.

Ontspanningsale is ook gebou.

Hulle is ook gebruik vir politieke byeenkomste, klaskamers en kerkdienste.

Brakpan Mines Co het dadelik twee skagte gesink.

Die eerste was naby die Apex-duikweg en die tweede oorkant die pad wat na die huidige Brakpan Mines-rolbalklub loop.

Die myn het in 1908 begin om goud te produseer.

Die Benoni-dorpsgebied is in 1904 gevestig, maar omdat nie Boksburg óf Springs se munisipaliteite die verantwoordelikheid vir die gebied wou aanvaar nie, kon dit nie ontwikkel nie, weens ’n gebrek aan doeltreffende sanitêre reëlings en gesuiwerde water.

Die eerste verkiesing was in November 1907.

Brakpan is ingedeel as Wyk 4 van Benoni.

Die Brakpan-inwoners wat verkies is om op die raad te dien was mnr C Brodigan (Brakpan Mines), mnr J Thom (Apex Collieries) en mnr J Stevenson.

Met die vestiging van Benoni is die poskantoor by Maskell’s Hotel gesluit en alle posaangeleenthede is na Benoni verwys.

Die banke het ook in die Benoni-gebied handel gedryf.

Die ongerief het die inwoners van die Brakpan-gebied oortuig dat hulle ’n eie dorpsgebied moes vestig.

Die eerste stap in dié rigting is in 1908 gedoen.

Die plan was eers om die dorpsgebied naby die Johannesburg-Witbank spoorlyn uit te lê, maar dit is deur die Benoni-raadslede afgekeur.

Hul mening was dat die grond deur Brakpan Mines se skag nommer een ondergrawe is en dus gevaarlik sou wees (in hierdie stadium was die skag reeds sowat 1 000m diep).

Na hul mening sou die dorpsgebied ook te na aan Benoni wees.

Dit was gou duidelik dat meer goud in die gebied gevind sou word, en deur die vestiging van ’n dorpsgebied toe te laat sou Benoni ’n moontlike toekomstige mededinger help oprig.

In 1911 het die ontwikkelaars stappe geneem om die geskilpunte wat deur Benoni geopper is te bowe te kom en in April daardie jaar het mnr Ewan Currey, ’n landmeter, opgedaag om die nuwe dorpsgebied uit te lê.

Currey het sy werk in September 1911 voltooi.

Hy het ’n dorp van 3 123 erwe, ’n park, ’n markplein, twee pleine, ’n ontspanningsgebied, ’n spoorwegstasie en ’n gereserveerde spoorwegterrein uitgelê.

Hierdie plan is in Januarie 1912 aan die Benoni-dorpsraad voorgelê waar ’n klein afvaardiging, gelei deur mnr Edgecombe, weereens die voorstel teengestaan het.

Die raad het egter tog toegestem tot die vestiging van die dorpsgebied Brakpan – as ’n voorstad van Benoni.

Die dorpsgebied het aangehou groei gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914 tot 1918) en Benoni het dit moeilik gevind om by te hou met die vereistes van sy verstote kind – Brakpan.

Sakeondernemings is op Brakpan gestig en ’n polisiekantoor is gebou, maar die naaste poskantoor was steeds in Benoni.

Daar was 2 450 erwe op Benoni terwyl daar 3 123 op Brakpan was.

Feitlik niks is gedoen aan die voorsiening van sanitêre dienste nie – die meeste huise het nog ‘n hutjie met ’n gat in die grond gehad as ’n gemakshuisie.

Baie min huise het kraanwater gehad en moes staatmaak op ’n put of windpomp in die agterplaas.

Reeds in 1915 is daar ’n belastingbetalersvereniging op Brakpan gevorm met die doel om te veg vir die onafhanklikheid van Benoni.

Lees: Delving into Brakpan’s past

In Desember 1917 is ’n formele versoekskrif opgestel deur ’n jong prokureur, mnr Alf Trollip, ’n nuwe aankomeling op Brakpan.

Dit is deur die voorsitter van die belastingbetalersvereniging, mnr BJ Milne, en 402 inwoners geteken.

Die versoekskrif wat aangedring het op munisipale status vir Brakpan, is voorgelê aan mnr George Hills.

As gevolg van die versoekskrif het die administrateur van Traansvaal ’n kommissie van drie, bestaande uit mnre AW Satem (voorsitter), PC Dalmahoy (magistraat van Benoni) en AE Williamson (rekenmeester) aangestel om die saak te ondersoek.

Nadat hy die getuienis aangehoor het, het die kommissie ’n meerderheidstem teen die wegbreek voorgelê, met slegs Williamson ten gunste daarvan dat Brakpan ’n munisipaliteit uit eie reg moet word.

Die administrateur en sy uitvoerende komiteelid het Brakpan in Januarie 1919 besoek om onderhoude te voer met mense om hul eie beslissing te vel.

Vroeg in Maart is ’n monstervergardering van 2 600 mense op die markplein gehou, en onafhanklikheid is geëis.

Later die maand het die administrateur besluit dat Brakpan toegelaat sou word om sy eie munisipaliteit te hê en om na sy eie belange om te sien.

Mnr Dalmahoy is aangestel om die dorp in wyke te verdeel en ’n kieserslys op te trek ter voorbereiding vir die eerste verkiesing.

Dieselfde aankondiging het ook mnre R Acton (voorsitter), H Tinker, J Lapping, J Salters, A van Belkum, H Bokhout en T Chalmers as ’n tussentydse komitee aangewys om die dorp te lei tot die eerste verkiesing.

Om die nuus te vier, het die belastingbetalersvereniging onmiddellik ’n impromptu dans in die Masonic-saal gereël.

Die komitee het vir die eerste keer op 30 Julie 1919 in die huis van mnr Tinker byeengekom.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts  (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

 For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version