Editor's choiceLocal newsNews

In die Kollig: Leer vir Hendrik Labuschagne ken

Ek sien uit om saam met leiers in die gemeenskap hiervoor te werk.

Hendrik Labuschagne (60) is die voorsitter van Tutela Gesinsorg, Brakpan. Hy is getroud met Wilma (60) en die egpaar, wat twee kinders en drie kleinkinders het, woon in Sunair Park.

• Jy is die voorsitter van Tutela, Brakpan. Hoe lank is jy al by die organisasie betrokke en wat is jou pligte as voorsitter?
Ek is nou vyf jaar betrokke by Tutela maar was voorheen ook by ander organisasies betrokke. As voorsitter is ek net deel van ‘n wonderlike span. My doel as voorsitter is net om leiding te gee aan almal binne die organisasie, om sodoende die organisasie se doelstellings uit te leef, maar ook om bande en verhoudings na buite uit te brei.

• Waarom juis Tutela?
Tutela Gesinsorg Brakpan het voorheen bekend gestaan as die Christelike Maatskaplike Raad Brakpan. Dit is ‘n onafhanklike nie-winsgewende organisasie wat maatskaplike en gesinsorg dienste aan die gemeenskap van Brakpan bied. Tutela staan onder die toesig en leiding van al die NG Kerk se gemeentes in Brakpan. Die beheerraad van die organisasie word saamgestel deur ‘n verteenwoordiger vanuit elke gemeente. Ek het by Tutela betrokke geraak deur my aktiewe betrokkenheid binne my eie gemeente, die NG Kerk, Dalpark.

• Na wie reik Tutela uit?
Tutela reik uit na enige persoon of gesinne in nood wat binne die grense van Brakpan woon. Alhoewel daar deur die Departement Maatskaplike Dienste sekere grense vasgestel is, lewer Tutela dienste binne sy toegekende grense, maar ook aan enige lidmaat binne Brakpan. Daar is ook baie gesonde samewerking tussen Tutela, Rata, ander organisasies, kerke en die Departement Maatskaplike Dienste.

• Wat is jou beroep?
– My passie is net om met mense en vir mense te werk. As gevolg van omstandighede was ek genoodsaak om my eie besigheid, HH Projects, te begin. Ek spesialiseer in die ontwerp, vervaardiging en installering van kombuise, slaapkamerkaste en studeerkamers, maar doen ook enige instandhoudingswerk en kleiner verbeteringsprojekte in en om die huis.

• Jy is al vir baie jare op verskeie gebiede baie betrokke in die gemeenskap van Brakpan. Waarom?
Ek het ‘n passie in myself om die gemeenskap te dien. Ek het vir 16 jaar op verskeie skole se beheerliggame gedien.  Ek dien op verskeie kerkrade sedert 1978, meestal in leiersposisies. Ook is ek huidig betrokke by kommissies op rings- en sinodale vlak.

• Die dorp word vanjaar 100 jaar oud. Wat sal jou wens vir die dorp wees?
My grootste wens is dat die gemeenskap van Brakpan by mekaar se verskille en sienings verby sal kyk en saamwerk om van Brakpan die dorp te maak wat bekend sal staan as die dorp waar al die mense nog saak maak en vir mekaar omgee. My visie vir Brakpan sal wees: “Brakpan – Hier waar die inwoners van Brakpan saam hande vat vir sy mense in die gemeenskap van Brakpan.”
Ek doen dan hiermee ook ‘n beroep aan almal in Brakpan om saam hande te vat om ‘n organisasie te begin waar elke persoon, al die besighede, organisasies, kerke, skole en instansies betrokke sal raak om van Brakpan die omgee dorp in Gauteng te maak. Ek sien uit om saam met leiers in die gemeenskap hiervoor te werk.

• Hoe hanteer jy ‘n moeilike dag?
Stukkie vir stukkie, met gebed en die krag van die Here maak ek dit elke keer.

• Kan jy self kos maak en wat geniet jy om te maak?
Ja, enige nuwe idee of resep is vir my ‘n uitdaging. Die skaappot wat ek maak, is vir my altyd ‘n uitdaging en ek geniet dit om te sien hoe almal daaraan smul.

• Vakansie in die bos of by die see en waarom?

Vir my is ‘n vakansie of naweek op enige plek altyd die moeite werd, solank ek mense vir wie ek lief is saam met my het.

• Hoe sou jy jouself beskryf?
Godskind, diensbaar vol genade, hoop en liefde.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts  (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button