CrimeEditor's noteNews

KYK: Bejaarde (72) veg verbete teen drie motorkapers

Die bejaarde het hard terug geveg maar het nie 'n kans gestaan nie.

’n 72-jarige inwoner van Brenthurst is Donderdag van sy voertuig beroof toe hy kontant by ’n OTM in Millecentstraat wou trek.

Theo Henning (72) het verbete teruggeveg toe hy aangeval is, maar sy drie aanvallers het die oorhand gehad en met sy wit Renault Kwid op die vlug geslaan.

Die voorval is vasgevang op sekuriteitskameras van ’n nabygeleë besigheid en dit is duidelik dat Theo hard teruggeveg het, maar nie ’n kans gestaan het teen sy drie aanvallers nie.

Theo Henning het beserings aan sy bene opgedoen toe hy deur die drie mans oorrompel is.

Sy dogter, Erna Stoltz (40), het vertel dat haar pa net na 11vm by die OTM stilgehou het.

“Hy het sy motorsleutel in sy hand gehad, en toe hy by die OTM sy beursie uit sy hempsak wou haal het een man hom aangeval en teen die plastiek skerm by die OTM gestamp,” het Erna vertel.

“Die man, wat gewapen was, het my pa se motorsleutels uit sy hand gepluk en my pa het met hom geworstel om die sleutels terug te kry.

“Hulle was in die middel van die pad toe nog twee mans bygekom het en daarna het my pa nie meer ’n kans gehad nie.”

Lees: Opvolg: Vyf gearresteer toe rowers in Dalview gestuit word

Volgens haar het die drie in sy voertuig gespring en het haar pa, wat toe reeds beseer was, steeds probeer om die kapers te stuit.

“Hy het probeer om die sleutels uit die aansitter te kry waarop twee van die rowers uit die kar gespring en hom weggestamp het.

“My pa het in die pad geval, waarna die mans weggejaag het. In die proses het hulle amper bo-oor my pa gery,” het Erna vertel.

Theo het skaaf- en dieper wonde aan sy hande, arms en bene opgedoen en sukkel ook met ’n seer borskas.

“Ek en my suster het die kar vir my pa vir sy 70ste verjaarsdag gekoop en hy was baie trots op sy ryding,” het Erna gesê.

Die voorval is by die SAPD aangemeld en die saak word ondersoek.

Volg ons:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button