Video: 15-jarige Brakpanner sing R20 000 los

Jean-Marie het aan die Arnold Classic Africa Got Talent-kompetisie deelgeneem.

Brakpan inwoner Jean-Marie Pretorius (15) het onlangs met groot sukses aan die sangafdeling van die Arnold Classic Africa Got Talent-kompetisie deelgeneem.

Die kompetisie het onlangs by die Sandton-konvensiesentrum plaasgevind.

Dié talentvolle sanger sing al vandat sy sewe jaar oud is en nadat sy as die wenner van die o-18 sangafdeling aangewys is, het sy dit beskryf as ’n droom wat waar geword het.

“Ek het glad nie verwag om die kompetisie te wen nie, maar ek dink na agt jaar se harde werk was dit bietjie my beurt,” het Jean-Marie, wat ’n leerder van Hoërskool Die Anker is, met ’n glimlag vertel.

Die saggeaarde blondekop het met ’n stewige prys van R20 000 weggestap en indien sy genoegsame borgskap bymekaar kan maak, wink ’n wêreldwye kompetisie in Ohio, Amerika, vir haar.

Lees: Anker leerder blink uit in droë hengel kampioenskap

Die jong sanger se sangloopbaan het by die Laerskool Môrewag vlam gevat toe die skool se sangafrigter haar talent raak gesien en haar gemotiveer het om aan kompetisies deel te neem.

Sy het van graad twee tot graad sewe sanglesse ontvang en in graad agt het sy ’n blaaskans geneem.

Sy beplan egter om binnekort weer met sanglesse voort te gaan.

Alhoewel dit Jean-Marie se droom was om ’n pediater te word, voel sy nou anders na haar groot wen by die Arnold Classic.

“Ek het nooit regtig my sang ernstig genoeg opgeneem om te dink ek sal ’n loopbaan daarvan kan maak nie, maar na my wen het ek besef God het vir my ’n talent gegee en ek moet dit gebruik tot die beste van my vermoë,” vertel sy.

Jean-Marie beplan nou om groot te gaan en vir die bekende sangkompetisie, The Voice South Africa, in te skryf en om ook in die toekoms aan meer kompetisies deel te neem.

Volg ons:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

Exit mobile version