MEER FOTO’S: Inwoners rol moue om dorp skoon te kry

Sowat 20 mense het Saterdag fluks gewerskaf om die veld op die hoek van Lowerweg en Kontikistraat skoon te kry.

Inwoners wat keelvol is vir die treurige toestand waarin sekere areas van die dorp verkeer is stadig maar seker besig om self aan die werk te spring om sodoende ‘n verskil te maak.

Dié beboste stuk grond is al vir jare lank ‘n probleemarea en ‘n lushof vir iemand wat onwettige storting wil doen.

Die veld bied ook die ideale wegkruipplek vir misdadigers en leeglêers.

Dit was juis onlangse voorvalle van misdaad in die spesifieke omgewing wat ‘n groep inwoners genoop het om aksie te neem.

Chris Hatting (52), ‘n inwoner van Minnebron, het verduidelik dat daar ‘n groep mense in Minnebron is wat patrollies doen en aan ‘n WhatsApp groep behoort.

Chris Hatting en sy vrou Myrtle het skouer aan die wiel gesit saam met ander inwoners om die veld skoon te kry.

“Na verskeie voorvalle van misdaad in Minnebron en ook spesifiek in die omgewing van die veld het ons die belangstelling van inwoners begin toets om met ‘n skoonmaakprojek te begin.”

Lees: Dankie, AfriForum

Volgens Hatting was die steun van ander inwoners en selfs inwoners van ander woonbuurte baie positief.

“Ons het beloftes van hulp gekry asook finansiële donasies wat ons in staat gestel het om addisionele arbeid vir die dag te huur,” het Hatting gesê.

Volgens hom het talle inwoners Saterdagoggend opgedaag, gewapen met toerusting om die ruie veld in toom te bring.

Lede van AfriForum Brakpan, met die hulp van vrywilligers, het onlangs die sypaadjie rondom die Tweedy Park Kompleks gaan skoonmaak.

“Inwoners het ook met bakkies en sleepwaens opgedaag om die takke en gemors te verwyder,” het Hatting gesê.

Volgens hom was dit verblydend dat jonk en oud ingespring het en onverpoos gewerk het.

“Daar was onder andere ‘n egpaar, Dries en Petro Smith wat beide 70 jaar oud is, en ook hul kant gebring het.

“Mense het kos en koeldrank aangery en dit was net ongelooflik om die entoesiasme van die inwoners te beleef,” het Hatting gesê.

“Ons was vanaf 8vm tot so 4nm besig en alhoewel daar groot vordering gemaak is, is daar nog baie werk om te doen,” het hy bygevoeg.

Hy het aangedui dat die groep weer Saterdag sal voortgaan met die projek en het inwoners van die woonbuurt uitgenooi om betrokke te raak.

“Hoe meer hande, voertuie en toerusting ons het, hoe beter,” het hy gesê.

Nog ‘n voorbeeld van inwoners wat moue opgerol en self ingespring het, is ‘n projek wat onlangs by die Tweedy Park Kompleks van stapel gestuur is.

Inwoners het bakkies en voertuie met sleepwaens beskikbaar gestel sodat die rommel, takke en onkruid weggery kon word.

Lede van AfriForum Brakpan het die sypaadjie rondom die kompleks gaan skoonmaak.

Dit was op plekke so oorgroei dat dit vir voetgangers moeilik was om die sypaadjies te gebruik.

In ag genome dat die meerderheid van die inwoners van die Tweedy Park Kompleks bejaardes is, was die skoonmaaksessie broodnodig.

Lees: AfriForum buurtwagte weer op hul pos

Gerhard Cilliers, takvoorsitter van AfriForum Brakpan, het groot lof vir die inwoners van Minnebron se aksie Saterdag gehad.

“AfriForum Brakpan-takbestuur erken met dank en die hoogste agting die gemeenskap van Minnebron vir die ongelooflike gebaar van samewerking,” het Cilliers, gesê.

“AfriForum se beginsel van #SelfDoen is veronderstel om universeel van toepassing te wees, en die grootste waarde lê opgesluit in enige gemeenskap se eie ontdekking van hierdie beginsel.

“Elkeen wat ‘n bydrae maak het aan iemand in die gemeenskap hoop gegee,” het Cilliers gesê.

Dries en Petro Smith is albei 70 jaar oud maar het nie geskroom om ook hand by te sit nie.

Nog ‘n inwoner van die dorp wat sterk voel oor die huidige toestand van die dorp is Wally Barber wat onlangs ‘n Facebook groep, Brakpan Clean Up Brigade, gestig het.

Barber het gesê dat hy graag deur middel van die Facebook groep bewusmaking wil skep en uiteindelik praktiese planne in werking wil stel om die dorp skoon te kry.

“Ek het die afgelope paar maande deur die dorp geloop en inspeksie gedoen oor wie die dorp so bemors.

“Dit is ook duidelik dat daar net ‘n floue poging deur die metro aangewend word om die dorp skoon te hou.

“Dit is tyd dat ons inwoners saamstaan, self inspring en die dorp regruk,” het Barber gesê.

Individue of besighede wat met Barber in verbinding wil tree kan hom by 082 395 4383 of 011 744 3793 kontak.

Volg ons:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version