In die kollig: Leer Laerskool Dalview se hoofseun ken

Renko Nell is in die kollig.

Renko Nell (13) is die hoofseun van Laerskool Dalview. Hy woon saam met sy ouers, Paul en Rosa, en jonger broer, Marko, in Dalpark, Uitbreiding Een.

Jy is die hoofseun van Laerskool Dalview. Dit is ’n groot verantwoordelikheid. Hoe hanteer jy dit tot dusver?

Om hoofseun te wees is ’n baie groot voorreg. Ek vat dit dag vir dag en hanteer elke dag se uitdagings met ywer en positiwiteit.

Wat maak mens ’n goeie leier?

Ek dink ’n goeie leier is iemand wat verantwoordelik en onselfsugtig is, wat ’n voorbeeld vir ander stel en daarin kan slaag om almal positief te lei.

Dink jy dit is belangrik dat skole leiers aanstel?

Definitief, dit help die leiers om te groei as mens. Ons leer ook om verantwoordelik te wees en om ’n voorbeeld en inspirasie vir ander te wees.

Die jaar is nog lank, waarna sien jy die meeste uit?

Ek sien uit daarna om my skool as hoofseun te verteenwoordig in die sport- en skoolaangeleenthede wat nog voorlê. Ek sien ook baie uit na die nuwe hoofstuk in my lewe wat gaan volg wanneer ek besluit na watter hoërskool ek gaan.

Watter vak is vir jou die lekkerste en hoekom?

Definitief wiskunde. Ek is mal oor wiskunde. Dis vir my lekker om somme te doen en probleme op te los.

Watter vak sal jy liewer ’n mis gee as jy kan?

SW (geskiedenis), want ek voel mens moet lewe in die toekoms en wat in die verlede gebeur het is nie vir my van belang nie.

Beoefen jy sport by die skool en dink jy dit is belangrik dat kinders aan sport deelneem?

Ek is mal oor sport. Ek doen atletiek, landloop, rugby, tennis en tweekamp. Dit is belangrik dat kinders sport beoefen. Dit leer hul dissipline, om in ’n span saam te werk en dit is goed vir ontwikkeling.

Dink jy daar is hoop vir jong mense van hierdie land?

Ek is ’n baie positiewe mens en glo dat daar altyd hoop is. Ek glo jy kan jou drome en ideale bereik met harde werk en geloof.

As jy een wens het wat bewaarheid sou kon word, wat sou dit wees?

Dat al die lelike dinge wat lewens kan verwoes uitgewis sal word, soos dwelms en misdaad.

As jy vir een dag president van die land kon wees, wat sou jy doen?

Ek sal al die kulture saam wou bring en armoede aanspreek.

Wat is jou mening oor die rol wat sosiale media vandag speel?

Sosiale media bring mense nader aan mekaar, maar kan ook ’n platform skep vir negatiewe invloede. Sosiale media moet baie oordeelkundig gebruik word.

Wat laat jou sommer lekker lag?

Diere wat simpel goed doen.

Wat maak jou baie gou kwaad?

Mense wat ongeskik is en dink hulle is beter as ander.

Jy moet vir twee weke op n eiland gaan bly en jy mag net vyf items saamneem, wat sal dit wees?

My ma, want sy kan kos uit enige iets maak, en ’n TV, Xbox, bed en tandeborsel.

Lees: In die kollig: Leer Laerskool Dalview se nuwe hoofdogter ken

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version