KYK: Verlamde ma reik uit na ander

Die ongeluk, wat op 13 Julie 2012 plaasgevind het, het veroorsaak dat Dianne verlam is.

Byna ses jaar nadat ’n ongeluk die lewe van Dianne Fourie (42) onherroeplik verander het, kyk sy vandag net vorentoe en is sy waarskynlik een van die mees positiewe inwoners van die dorp.

Sy het wel die gedeeltelike gebruik van haar arms, maar die ongeluk het haar basies ’n kwadrupleeg gelaat.

Dianne Fourie (links) saam met haar vriendin, Chantelle Muller.

Daar het sedertdien baie water in die see geloop en alhoewel daar baie laagtepunte was, hou Dianne deesdae haar kop omhoog.

Dié dapper vrou, wat ten tye van die ongeluk ’n suksesvolle besigheid besit het, het op ’n stadium alles verloor en was afhanklik van weldoeners om kop bo water te hou.

Twee persone wat nooit haar sy verlaat het nie en vandag steeds bankvas agter haar staan is haar kinders, Monique (19) en Juan (13).

Beide was saam met haar in die ongeluk. Monique het ’n skouerbesering opgedoen en Juan is ook beseer. Hulle was destyds 12 en ses jaar.

Monique Fourie is tans besig om op ’n loopbaan in drama en televisiewerk te fokus.

“My kinders is saam met my deur baie moeilike tye en nou dat dit beter met ons gaan kan ek steeds elke liewe dag op hulle staat maak,” vertel Dianne.

“Hulle is my rots en my trots.”

Dianne het in 2016 ’n uitbetaling van die Padongelukkefonds (POF) ontvang, wat haar in staat gestel het om sekere dinge in plek te stel om sodoende haar lewe te vergemaklik.

Lees: VIDEO: Breinbeseerde kind (3) sterk nou tuis aan

’n Groot pluspunt was ’n voertuig wat aangepas is sodat sy kan bestuur.

“Dit het in ’n mate my onafhanklikheid vir my terug gegee.

“Ek was voorheen totaal afhanklik van ander mense om my rond te karwei en ander mense moes ook my kinders rondry.”

Monique Fourie geniet ook modelwerk.

Dianne is steeds baie afhanklik van hulp en word daagliks deur ’n versorger en ’n permanente huishulp versorg.

Maar deesdae is dit ’n baie positiewe Dianne wat besig bly met ’n magdom projekte.

“Ek is wel gekluister aan ’n rolstoel en ek is verlam, maar met my kop is daar niks verkeerd nie.

“Ek het danksy die ondersteuning van my kinders en vriende en die genade van Bo besluit om die beste van ’n slegte saak te maak.”

Dianne hou haarself besig deur motiveringspraatjies te lewer, sy is besig om ’n boek te skryf, sy het ’n anti-boelie projek op die been gebring en sy leer mense kitaar speel.

“Daar is niks fout met my stem nie en daarom is ek ook besig om die Bybel deur te lees vir mense wat nie tyd het om dit te doen nie.

“Ek neem dit in audio op en stuur dit aan sowat 300 mense in ’n groep wat ek gestig het. Die mense kan dan daarna luister wanneer hulle tyd het,” het Dianne verduidelik.

Juan Combrink-Joubert is gelukkig wanneer hy aan motorwedrenne kan deelneem.

“Daar was werklik dae toe ek gedink het daar geen uitkoms vir my gaan wees nie, maar die Here het altyd vir my die pad gewys.”

Dianne doen ook navorsing oor moontlike behandeling wat haar toestand kan verbeter.

Oor haar kinders kan sy nie uitgepraat raak nie.

“Albei was so jonk toe die ongeluk plaasgevind het. Hulle het ’n bitter en lang pad saam met my gestap en hulle is steeds elke dag daar vir my.

Sy vertel trots dat Juan goed vaar in karate en dat hy ook onlangs begin het om aan motorwedrenne deel te neem.

“Monique het ’n suksesvolle modelloopbaan vir haarself opgebou en sy stel belang in fotografie. Sy doen ook baie uitreikingswerk onder minderbevoorregtes en is tans besig om op ’n loopbaan in drama en televisiewerk te fokus,” het Dianne vertel.

“Ja kyk, die ongeluk het my normale, gelukkig lewe van my weggeneem, maar ek bly Dianne.

“Ek is Dianne met ’n kop wat nog werk en ek gaan nie toelaat dat my toestand my keer om ’n verskil te maak waar ek kan nie.”

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version