Chemiké is tuis op die rugbyveld

Chemiké is ’n leerder aan die Laerskool Baanbreker en is aan die begin van die jaar vir die skool se o-8 Valkie-rugbyspan gekies.

 

Chemiké Visser, ’n sewe-jarige inwoner van die dorp, glo nou maar net daaraan dat rugby nie net vir seuns of manne met harde baarde is nie.

Die mooi blondekop speel al rugby vandat sy vier jaar oud is en het al meer as een keer bewys dat sy vir geen seun op die rugbyveld terugstaan nie.

Alhoewel sy die enigste dogter in die span is, geniet sy elke liewe oomblik wat sy kan speel.

Die klein rabbadoe, Chemiké Visser, hardloop gereeld sirkels om die seuns. Foto: Michelle Venter

Die jong rabbedoe het haar liefde vir rugby by haar pa, Dewald, aangeleer, wat haar van kleins af touwys gemaak het.

Sy hoop om haar spel te verbeter en is juis op die uitkyk vir ander opsies, soos om by ’n rugbyklub aan te sluit sodat sy haar droom kan najaag.

Vir nou geniet Chemiké dit om vir haar skool uit te draf en net haar beste op die rugbyveld te gee.

As die enigste meisie in die span moet sy ongelukkig ook nou en dan negatiewe kommentaar, veral van die ander jong dogtertjies af, aanhoor.

Lees: In die kollig: Leer meer oor Crystal Mylie

“Gelukkig steur sy haar glad nie aan hulle nie en sê net vir hulle dat sy nie soos hulle wil wees wat pienk dra en teepartytjies hou nie,” vertel Chemiké se ma, Allychéa.

“Inteendeel, ek dink die negatiewe kommentaar raak ons as ouers meer as vir haar.”

Die vreeslose Chemiké het al tydens oefening ’n spanmaat geduik dat hy sommer bly lê.

“Van die woelige seuns is ook maar rof met haar, terwyl ander bietjie geïntimideerd voel en eerder terug staan,” vertel Allychéa.

Die dogtertjie woeker met haar talente en doen ook kickboxing by XKT in Brakpan, waar sy deur Raymond en Ryan Phillips afgerig word.

Chemiké het ook haar eie Husqvarna 50cc veldren motorfiets waarmee sy graag rondry in haar vrye tyd.

Alhoewel daar nog baie water in die see moet loop, het dié lewenslustige Baanbrekertjie klaar besluit dat sy eendag ’n werktuigkundige wil word nes haar oorlede oupa, oupa Gerrie.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version