Editor's noteLocal newsNews

Outisme: ’n Lewe saam met Francois

Outisme is ’n neurobiologiese ontwikkelingsteuring wat hoofsaaklik deur sosiale, kommunikasie- en gedragsprobleme gekenmerk word.

Brakpan inwoner Magda Moorcroft se lewe het sowat twee jaar gelede in ’n oogwenk verander toe haar woelwater, blondekop seun, Francois Moorcroft (8), met outisme gediagnoseer is.

Die Herald het, met die oog op Outismebewustheidsmaand (April), met Magda gesels oor die pad wat sy met Francois stap.

“Dit was asof iemand my met ’n emmer koue water gegooi het en die mat onder my uitgeruk het,” het Magda gesê oor die oomblik toe sy gehoor het dat haar kind outisties is.

Volgens haar was Francois se ontwikkeling as baba tot en met 18 maande heel normaal en op standaard.

“Maar toe hy so drie jaar en ses maande oud was, het ek hom vir arbeidsterapie geneem, omdat daar duidelik ’n probleem met sy spraakontwikkeling was.”

Volgens Magda het Francois ook nie goeie balans gehad nie en het hy dikwels geval wanneer hy geloop het.

Die volgende stap was om vir Francois by ’n goeie spraakterapeut te kry, waar hy gou vordering gemaak het.

“Sy woordeskat was beperk, maar dit was wonderlik om te hoor hoe hy, met die regte hulp, woordjies kon uitspreek,” vertel Magda.

“In 2015 het ek vir Francois na ’n pediater geneem vir advies en leiding, aangesien sy ontwikkeling ver agter die van kinders van sy ouderdom was.

“Die dokter het vir Francois vir ’n breinskandering gestuur, waarna hy verder fyn gemonitor is.”

Magda het ook alles in die stryd gewerp om haar kind se agterstand sover moontlik aan te spreek.

In 2017 het Francois (toe ses) gesukkel om by te hou en het Magda hom na ’n ander pediater geneem, min wetend wat op haar wag.

“Ons het vraelyste ingevul en die pediater het Francois verwys vir skoolgereedheidstoetse.

“Die pediater het in die verwysingsbrief aan die sielkundige geskryf dat sy vermoed dat Francois outisties is, maar toe dit eers aan my bevestig is, was ek stomgeslaan en natuurlik baie hartseer.

“Dit was die begin van ’n nagmerrie van 12 maande. Francois is op medikasie geplaas wat nie ’n goeie uitwerking op hom gehad het nie.

“Dit was ’n tydperk wat baie moeilik vir my, maar ook vir hom, was.

“Na ’n uitbarsting by sy skool het ons huisdokter dié spesifieke medikasie gestaak en ander medikasie voorgeskryf,” het Magda vertel.

Hy volg nou ’n baie streng roetine en is elke aand om 8nm reeds in die bed.

Francois Moorcroft.

Volgens Magda is al die gewone kenmerke van outisme duidelik te bespeur by Francois.

“Hy kry ongelooflike uitbarstings en hy vermy oogkontak sover moontlik. Hy kan ook nie groot groepe mense hanteer nie.

“Francois hou niks van verandering of van ’n geraas nie.

“Ek kan ook nie met hom raas nie, anders sal hy net harder skreeu.”

Kinders met outisme is ook baie geheg aan sekere goed en sommige kinders eet of dra nie sommer enige iets nie.

Francois kan byvoorbeeld glad nie woltruie dra nie.

“Francois is ongelooflik geheg aan my en hy loop gewoonlik onder my arm.

“Ek maak altyd ’n grap met hom en sê ek het ’n groeisel onder my arm en dan sê hy ‘dis maar net ek’.”

Francois pas ook baie moeilik aan by nuwe omstandighede en hy moet soms twee weke voor die tyd voorberei word dat hy iewers heen gaan.

Die jong seun het ook sy eie mes en vurk en stoel by die etenstafel en niemand mag durf aan sy goed raak of op sy plek sit nie.

“Ons het vir hom magneetblokke van Amerika af bestel en dis ongelooflik wat hy alles kan bou.

“Voorts is legkaarte en Lego-boublokkies sy lewe en hy bou graag karretjies en robotte.

“Ek glo daar moet ’n bewusmaking van outisme wees en ’n ondersteuningsnetwerk kan ook baie help.

“Dis veral moeilik met kinders wat uitbarstings kry en dit put jou en die kind uit. Ek is soms sommer papnat gesweet na so sessie.”

Magda gee graag advies aan die ouers wat pas uitgevind het of vermoed dat hul kind outisme het.

“Kry professionele hulp, vind uit waar is jou naaste ondersteuningsgroep is, lig jou familie in en doen soveel navorsing as moontlik oor outisme.

“Maak ook doodseker jou kind is reg gediagnoseer en dat hy of sy die korrekte medikasie kry.”

Lees: Felicitas School spreads autism awareness

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button