Editor's choiceLocal newsNews

Talentvolle skrywer pak haar vierde boek aan

’n Inwoner van die dorp, Lynelle Clark is ’n vrou van formaat met talent in oorvloed.

 

Dié 54-jarige inwoner van Brenthurst het sowat 10 jaar gelede deur moeilike omstandighede in haar persoonlike lewe gegaan, waarna sy besluit het om stories daaruit te laat vloei.

Dít het daartoe gelei dat sy vandag ’n suksesvolle skrywer is.

Dit was beslis nie ’n eenvoudige kuns wat sy oornag aangeleer het nie, alhoewel sy haarself geleer het om te skryf.

“Oor ’n tydperk van drie jaar het ek net daarop gekonsentreer om te skryf en ek moes basies deur ‘trial and error’ leer, omrede ek nie amptelik enige slypskole bygewoon het nie,” vertel Lynelle.

Die goedversorgde vrou was ook ’n biblioteekleier by Hoërskool Hoogland en het gereeld die dorp se biblioteek, waarvan sy ’n lid was, besoek.

Lynelle skryf nou al die afgelope nege jaar en in 2012 het sy haar eerste historiese roman met die titel, A Pirate’s Wife, gepubliseer.

Twee jaar later het sy nog ’n boek, wat ’n kontemporêre roman is, die lig laat sien. Die titel heet Bella’s Choice.

Lees: Inwoner verwerf doktorsgraad

Bella’s Choice handel oor ’n 18-jarige meisie, Anabella Anthony, wat ’n doodgewone lewe wil lei.

In plaas daarvan om die leefstyl te leef wat haar skatryk ouers vir haar verkies, wou Anabella net ’n normale huishouding hê, maar haar ouers het ander planne vir haar gehad en sy moes deel van hul keuses word.

In 2018 het Lynelle haar derde boek, naamlik Blood Mines, ’n futuristiese riller, gepubliseer.

Met die boek het sy besluit om bietjie weg te beweeg van die romanse.

Dié spanningsvolle verhaal in die boek speel af in die jaar 2048, waar Gauteng se geografiese kenmerke verander deur ’n verwoestende aardbewing, wat veroorsaak dat al die water in suur verander.

Na dié groot ramp, moet die karakters na skoon water soek, maar hul stryd om oorlewing word bemoeilik deur talle angsvolle oomblikke wanneer hulle met rebelle in aanraking kom.

Lynelle is opgewonde om binnekort haar vierde boek te publiseer.

Love at War, is ’n militêre roman en sy hoop om dit einde April op die boekrakke te hê.

Die lewe self is wat dié skrywer die meeste inspireer en haar vingers oor die sleutelbord laat gly.

“Die lewe inspireer my die meeste. Die wêreld om my is altyd gevul met stories.

“Wanneer ek iemand in die straat sien loop, dan vra ek myself, wat is sy/haar storie? Hoekom is sy/hy hier?

My kop is altyd vol vrae,” vertel sy.

Skryfwerk is nie die talentvolle vrou se enigste beroep nie. Sy werk ook tans as ’n radio omroeper by Elan Global Radio, ’n internetradiostasie waar luisteraars wêreldwyd kan inskakel.

Sy bied ook ’n weeklikse program, naamlik Diamant Divas, op die radiostasie aan.

Lynelle het dié program begin as gevolg van haar eie pad as enkellopende vrou.

“Daar is baie slaggate waarvan enkelvrouens nie bewus is nie en ek moes op die harde manier leer om straatwys te word.

Lees ook: Anker onderwysers en leerders ryg toekennings in

“Die pad het my baie geskuur en so ek het grootgeword,” het sy vertel.

Die weeklikse program is juis uit hierdie oogpunt begin; om ander vroue teen slaggate te waarsku en te leer, sodat hul ook straatwys kan word.

“Diamant Divas se naam kom van die proses wat diamante moet deurgaan om weer te kan skitter,” het Lynelle verduidelik.

Alhoewel sy vir ’n geruime tyd ’n enkellopende vrou was, het sy liefde gevind en is sy tans verloof aan Isak de Lange (65).

Lynelle en haar Isak bring graag al hul vrye tyd saam deur, en is mal daaroor om die pad te vat en sommer net te ry om klein plekkies te besoek en lekker rustig te kuier.

“Isak het my ook voorgestel aan kampering en ek ontmoet die interessantste mense op hierdie pad wat gewoonlik dan sommer ’n karakter in ’n storie word,” vertel sy.

Die inspirerende vrou help ook graag nuwe skrywers, want dit is vir haar baie vervullend om ontluikende skrywers te help en te sien hoe hulle triomfeer.

“Dit is kardinaal om hulle te help om ook as te ware op die ‘map’ te kom.”

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button