VIDEO: Natalie verstom die Filippyne met haar skoonheid

Natalie se pa, Deon, wat ’n kenner van die modelbedryf is, het haar na die Filippyne vergesel en dit was ’n opgewonde pa en dogter wat Maandag op die lughawe geland het.

Natalie Krause, ’n model van die Vogue Catwalk Models in Dalpark, het Maandag teruggekeer nadat sy Suid-Afrika verlede week in die Filippyne by die Little and Teen Glam International 2019 kompetisie verteenwoordig het.

Alhoewel sy nie met die gesogte titel weggestap het nie, het die mooi blondekop twee spesiale toekennings ingepalm, naamlik Miss Photogenic en Miss Stunning.

“Ek het ook ’n groot kompliment van die direkteure van die kompetisie gekry toe daar aan my gesê is dat ek nog eendag Mej Wêreld gaan word.

“Daardie woorde het vir my regtig baie beteken aangesien dit my droom is om eendag die Mej Wêreld kroon te kan dra,” het Natalie gesê.

Die 11-jarige is beslis nie van plan om slap te gaan lê nie en is dankbaar vir die ervaring wat sy uit die kompetisie geleer het.

“Die kompetisie het my geleer om meer verstandig te wees.

Lees ook: VIDEO: Natalie is sak en pak op pad na die Filippyne

“’n Uur voor ons finaal sou plaasvind het hulle besluit dat ons voor die hele gehoor ’n onderhoud met die media moes voer, sonder enige voorbereiding.”

Natalie het natuurlik haar beste voetjie voorgesit en elke vraag tot die beste van haar vermoë beantwoord.

Met hul aankoms het dinge so effe skeef geloop toe die jong model reeds haar eerste uitdaging beleef het.

Sy moes weens vlugvoosheid gehospitaliseer word.

“Ek was so gestres, want sy moes gereed gewees het vir haar eerste fotosessie, maar nadat ons kalm geraak het kon ons aan die direkteure van die kompetisie verduidelik dat sy in die hospitaal was,” het Deon vertel.

Die jong spontane meisie het vriende van regoor die wêreld gemaak en het die verskillende soorte kulture baie interessant gevind.

“Al waarvan ek nie gehou het nie was die kos. Ons het elke oggend, middag en aand hoender en rys geëet. Ek kon nie wag om terug te kom en ’n lekker groot hamburger met alles daarop te eet nie.”

Die beeldskone model het ongelooflike ervaring opgedoen en sal beslis weer deelneem wanneer sy bietjie ouer is.

“Al het ek nie top drie gemaak nie, weet ek, ek het ’n blink toekoms voor my en ek hoop om eendag Mej Suid-Afrika te word.”

Volg ons:

Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version