Editor's noteLocal newsNews

Weldoeners snel paniekbevange ouma te hulp toe baba ophou asem haal

Twee weldoeners het Vrydagmiddag tot die redding van ’n paniekbevange ouma van die drop gekom toe haar kleinseun, wat saam met haar in haar voertuig was, ernstig siek geraak het.

Jackie Klynsmith (51) het haar agt maande oue kleinseun, Zanelin Blignaut, net na 1nm by sy kleuterskool gaan oplaai en agter in ’n karstoeltjie laat sit.

“Ek het kort-kort oor my skouer geloer om te sien of Zanelin in die haak is, omrede hy koors gehad het en nie lekker gelyk het nie,” het Jackie vertel.

Dié ouma was op pad om haar vriendin by haar huis af te gaan laai en het by die Stoffberg duikweg se verkeerslig agter ’n ander voertuig stilgehou.

“Ek het weer oor my skouer geloer en dit het voorgekom of Zanelin nie asem haal nie. Sy blou ogies was ook stokstyf,” het Jackie vertel.

“Ek het myself dood geskrik en vir my vriendin geskree dat sy moet uitklim om hom te tel, maar haar hand is in gips en sy kon hom nie vinnig uit die karstoeltjie kry nie.

“My instinkte het ingeskop en ek het toe oor die sypaadjie gejaag verby die voertuig voor my om in Stasieweg te stil te hou.”

Die paniekerige bejaarde het uit haar voertuig gespring toe daa’’n wit kar met twee mans reg agter haar stilhou.

Lees ook: Vrou vertel van hel toe kokende waks op haar hand beland

Dié het gevra wat fout is en het onmiddellik mond-tot-mond asemhaling op klein Zanelin toegepas.

“Ek en my vriendin was albei in ’n toestand en ek het net aangehou skree en gesoebat dat hul hom net moet help,” het Jackie gesê.

Die twee mans het toe besluit om met Zanelin na die Life Dalviewkliniek te jaag en die ouma is agterna.

“By die hospitaal het ek uit my kar gespring en my kleinseun by een van die mans gegryp en in die hospitaal gehardloop en net begin skree dat iemand hom asseblief moet help.”

Klein Zanelin is dadelik behandel en is Dinsdagoggend ontslaan.

“Ek hoop dat ek die twee engele kan opspoor wat God verlede Vrydagmiddag oor my pad gestuur het, om vir hul persoonlik dankie te sê vir wat hul gedoen het.

“As dit nie vir hulle was nie, was my kleinseun dalk nie vandag meer saam met ons nie.

“Hulle was regtig engele van bo, want soos hul verskyn het, is hul weer net so weg nog voor ek vir hul kon dankie sê.”

• Die Herald sal ook graag met die weldoeners wil gesels. Die betrokkenes kan vir Miné van Vuuren by 011 740 1825 of per e-pos by brakpanherald@caxton.co.za kontak.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

Related Articles

Back to top button