VIDEO: Een huisrower dood, een gewond toe inwoner skiet

Drie huisrowers het vanoggend hul rieme styfgeloop toe hulle by ‘n huis in Springsweg ingebreek het.

Volgens inligting wat beskikbaar is, het twee mans, wat glo met messe gewapen was, toegang tot die huis verkry en die eienaar in ‘n slaapkamer vasgebind, waarna hulle seker items bymekaar gemaak het.

Die eienaar kon glo daarin slaag om die twee rowers te oortuig dat iemand op pad was na die huis waarop hulle die kamer verlaat het.

In dié tyd kon die eienaar daarin slaag om homself te bevry maar die twee inbrekers het teruggekeer en hom weer vasgebind.

Hulle het hom daarna in die kamer gelaat, waarna hy weer daarin kon slaag om homself te bevry.

Lees ook: Family pet decapitated: suspect to appear in court

‘n Skietery het daarna ontstaan, wat tot gevolg gehad het dat twee van die rowers gewond is.

Een is ernstig gewond en is op die toneel behandel maar hy het aan sy wonde beswyk.

Die tweede rower het op die vlug geslaan en is in ‘n erf, skuins agter die huis wat die teiken was, aangetref.

Adele de Jager (55) wat in dié huis  in Dirk van der Hoffstraat woon het aan die Herald gesê dat sy skote gehoor het en kort daarna ‘n man in haar erf opgemerk het.

“Ek het aan hom gevra wat hy in ons erf doen en hy het vir my gesê dat hy geskiet is,” het sy aan die Herald vertel.

Volgens haar was die man bebloed en het sy hulp ontbied. Die man is op die toneel behandel en na ‘n hospitaal vervoer.

Nog ‘n ooggetuie Juantelle Oosthuizen (34) wat reg langs die huis woon, waar die voorval plaasgevind het, het haar vermoedelik in die derde rower vasgeloop.

“Ek was binne my  huis toe ek skote hoor en het na buite gegaan om te sien wat aangaan,” het sy gesê.

‘n Paar meter vanaf haar huis het sy haar vasgeloop in een van die verdagtes wat toe omgedraai en op die vlug geslaan het.

“Ek het groot geskrik en is dadelik weer terug in my huis in,” het sy gesê.

Volg ons:

Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

Exit mobile version