Vrou vertel van hel toe kokende waks op haar hand beland

Waarskuwing: Foto’s onderaan die berig kan sensitiewe lesers ontstel.

Byna twee maande nadat kokende waks op ’n inwoner van die dorp se hand geval het, ervaar sy nog steeds ongemak.

Bernadine Durant Vos (53) van Kenleaf is egter baie dankbaar dat die nagmerrie uiteindelik agter die rug is, maar die pyn wat sy verduur het, is iets wat sy nie gou sal vergeet nie.

Daar was aan die begin van Desember groot opwinding in haar huis oor haar dogter, Zandria (29), se troue wat op 10 Desember plaasgevind het.

“Ek het op die aand van 8 Desember waks in ’n mikrogolfoond gesmelt om haarverwydering te doen,” het Bernadine vertel.

“Ek het my dogter se mikrogolfoond gebruik en my misgis met die feit dat dit baie meer kragtig as myne is.”

“Dit het ook tydelik bo-op ’n yskas gestaan en ek het vir my skoonseun, Ryno du Toit, gevra om die bak vir my uit die mikrogolf te haal.

“Toe hy dit vir my aangee was dit vir my te warm om vas te hou en die waks het op my hand beland.

“Die pyn was onmiddellik ondraaglik en ek het my hand onder koue lopende water gehou, wat veroorsaak het dat die waks gestol het,” het Bernadine vertel.

Lees ook: Skenk skryfbehoeftes en help ’n kind

Zandria en Ryno het met haar na ’n hospitaal gehaas waar sy onmiddellik behandel is.

“Dit was ongelooflik seer en die geduldige verplegingspersoneel moes die waks stukkie vir stukkie verwyder.

“Ek kon my hand net vir klein rukkies buite ’n bak met koue water hou en dan het hulle so gou gewerk as hulle kon,” het Bernadine vertel.

Dit het ongeveer twee ure geneem voordat al die waks verwyder is waarna haar hand behandel en verbind is.

“Ek het intussen aan erge skok gelei en is medikasie toegedien, voordat ons huis toe is,” het Bernadine vertel.

“Ek het daardie aand skaars ’n oog toegemaak.”

Die volgende dag het groot blase op haar hand gevorm en pynlike opvolgbehandeling het gevolg.

“Gelukkig vir my is daar ’n verpleegster wat in my kompleks woon, wat van my ongeluk te hore gekom het toe sy van vakansie teruggekeer het.”

Bernadine het groot lof vir Lalie Breedt, wat daarna die versorging van haar hand oorgeneem het totdat dit in so ’n mate genees het dat sy dit self kon hanteer.

“Die vel is nog hier en daar rooi maar dit behoort reg te kom. Sommige dae voel die been in my hand egter seer,” het Bernadine gesê.

Sy vertel dat haar dogter se troue darem nie deur die voorval in die wiele gery is nie en dat sy dit met ’n swaar verbinde hand kon bywoon.

“Dit is ’n seer wat ek vir niemand kan beskryf nie en as ek ooit weer met waks werk sal ek baie, baie versigtig wees.

Groot blase het die dag nadat sy gebrand het op haar hand gevorm.
Die behandeling was pynvol en het etlike weke geduur.
Ryno en Zandria du Toit, hier op hul troudag, twee dae ná die voorval, het ook groot geskrik.
Bernadine du Rant se hand het goed genees.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

Exit mobile version