In die kollig: Leer die mense in jou dorp ken

Chelle-Marie Schoeman is in die kollig.

Chelle-Marie Schoeman (13) is verlede week as die nuwe hoofdogter vir die Laerskool Brakpan-Oos aangewys. Haar ouers is Yolanda en Chris en sy het twee boeties, Chris (11) en Dian (8).

Wat beteken dit vir jou om die hoofdogter van die Laerskool Brakpan-Oos te wees?

Dit is regtig vir my ’n groot voorreg en eer om die hoofdogter van my skool te wees.

Wat hou die res van die jaar vir jou in, en waarna sien jy die meeste uit?

Dit gaan ’n besige jaar wees met baie uitdagings. Ek sien die meeste daarna uit om te help waar ek kan.

Wat maak van mens ’n goeie leier?

Eerlikheid, vriendelikheid en hulpvaardigheid.

Dink jy dit is belangrik dat skole leiers aanstel?

Ja, ek dink dit is belangrik, want anders sou daar chaos gewees het.

Hoe voel jy oor boeliery in enige skool?

Boeliery in enige skool moet nie geduld word nie en moet dadelik aangespreek word.

Beoefen jy sport of ander aktiwiteite by die skool en dink jy dit is belangrik dat leerders betrokke moet raak?

Ja, ek geniet sport en die ander aktiwiteite wat die skool ons bied. Elke leerder behoort betrokke te wees.

As jy vir een dag die President van die land kon wees, wat sou jy doen?

Ek sou graag wou seker maak dat alle hawelose mense ’n dak oor hul kop het en dat daar kos vir almal moet wees.

Wat is jou siening oor sosiale media en die rol wat dit in vandag se samelewing speel?

Dit het goeie en slegte aspekte. Die goeie aspekte is dat jy met jou geliefdes wat ver is kan kommunikeer en die slegte aspekte is dat sosiale media baie gevare kan inhou en daarom moet ons baie versigtig wees.

Hoe hanteer jy uitdagings en teleurstellings?

Uitdagings hanteer ek soos wat dit oor my pad kom en wanneer daar ’n teleurstelling is probeer ek iets positiefs daaruit leer.

Indien jy vir een dag ’n dier kon wees, wat sou jy wees en hoekom?

Ek sou graag ’n leeuwyfie wou wees, want sy sien om na haar gesin sonder om te dink aan die gevolge.

Hoe spandeer jy jou vrye tyd?

Ek lees en swem graag.

Wat laat jou lekker lag?

My beste vriend se grappies.

Wat maak jou bang?

Om die mense vir wie ek lief is te verloor.

Beskryf jouself in vyf woorde.

Hardwerkend, behulpsaam, vriendelik, goedhartig en slim.

Wat wil jy eendag word?

Ek wil graag eendag ’n dokter of prokureur word.

Lees ook: Oosies se hoolfleiers vir 2019

Volg ons:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

 

Exit mobile version