Local newsNews

In die kollig: Leer die mense in jou dorp ken

Chenelle Dietrechsen is in die kollig.

Chenelle Dietrechsen (12) is die Sonneveld Akademie se hoofdogter vir 2019. Sy woon saam met haar ouers, Bertus (40) en Maryna Dietrechsen (39), asook haar jonger broer, Vaughn (6), in Minnebron.

Jy is vanjaar die hoofdogter van die Sonneveld Akademie, het jy gedink jy sou die hoofleier word?

Dit was vir my ’n groot onverwagte oomblik toe die hoof, Mnr Steven Weber, my naam aankondig. Vir ’n oomblik het alles so onwerklik gevoel, want ek dink tog elke graad ses dogter wens diep in haar hart om as hoofleier gekies te word. Dit is vir my ’n eer om die rol te mag vervul in 2019.

Wat is jou pligte as hoofdogter van die skool?

Ek reël, in samewerking met die hoofseun, diensbeurte en die diensterreine vir die leerderraad. Ek sorg ook dat die meisies leerderraad hulle pligte na behore verrig.

Watter vak is vir jou die lekkerste en hoekom?

My gunsteling vak is wiskunde, want dit is boeiend en ’n eindelose put van ontdekkings. Wiskunde daag jou uit om vir jouself te dink en jy kan nooit verveeld raak nie, elke som is uniek op sy eie.

Watter vak sal jy liewer ’n mis gee as jy kon en hoekom?

Lewensoriëntering, siende dat dit onderwerpe is wat jy tuis geleer word deur jou ouers of voog.

Beoefen jy sport by die skool en dink jy dit is belangrik dat kinders aan sport deelneem?

Ja, ek beoefen spiesgooi, gewigstoot en netbal, wat my heel gunsteling is. Ek doen dans buitemuurs, wat ek op die ouderdom van vier begin het.

Sport is nie net goeie oefening nie, dit dra ook by tot jou geluk en algehele welstand. Dit help jou om te leer hoe om met nederigheid te wen en hoe om met waardigheid te verloor.

Dink jy daar is hoop vir die jongmense van hierdie land?

Daar is baie dinge in hierdie land waarvoor ons as jongmense hoop – ’n toekoms, veiligheid, ensovoorts. Hierdie hoop is ’n uitdrukking van ons persoonlike begeertes. Ons hoop vir dinge wat onseker is. Ons glo maar dat as ons hoop, dit bewaarheid sal word. Maar ek het Bybelse hoop en dit is ’n vaste oortuiging dat God sy beloftes gaan vervul – dit is ’n versekering van wat sal gebeur. Hierdie hoop is geloof gerig op die toekoms.

Wat is jou nuwejaarsvoornemens?

Ek maak nie regtig nuwejaarsvoornemes nie, maar ek glo daarin om jouself elke nuwe jaar uit te daag om geluk te vind in alles wat jy aanpak en om jouself daardeur te verbeter. Om ook elke dag opreg dankbaar te wees vir wat jy het en om altyd nederig te bly.

As jy een wens het wat bewaarheid sou kon word, wat sou dit wees?

My wens is vir God se uitstorting van sy guns en genade oor ons skool, Sonneveld Akademie. Ons skool is ons kinders en onderwysers se trots en toekoms.

Het jy al besluit wat jy eendag wil word?

Ek het ’n liefde vir mense en diere, daarom wil ek eendag in ’n mediese rigting studeer. Ek sal graag in my vryetyd fotografie ook wil beoefen.

Wat motiveer jou?

Daar is min dinge wat my soveel motiveer soos om erkenning te kan gee of te kan ontvang.

Verkies jy die see of die bos?

Ek verkies ons familievakansies by die see. Ons kan vir ure loop en skulpies optel en die seelewe op die rotse bewonder. Die vars seebriesie en swem in die golwe bly altyd ’n hoogtepunt vir my.

Lees ook: Sonnies skitter wanneer dit by akademie kom

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button