VIDEO: Dié twee se koppe is in die wolke

In die Olsen-gesin van Dalpark se huishouding is daar nie net een kind wat met haar kop in die wolke rondloop nie, maar wel twee.

Sussies Louise (22) en Angelique (20) Olsen spog beide reeds met hul privaat vlieënierslisensie (PPL) en is nou in die proses om hul kommersiële vlieglisensies te bekom.

Wanneer jy dié vriendelike twee die eerste keer ontmoet is dit egter moeilik om hulle met groot vliegtuie en stuurkajuite te assosieer.

Dit is beslis nie hemelbesems wat jou begroet nie. Eintlik net die teenoorgestelde. Beide is effe aan die kort kant, met Louise wat 1.54m in haar sokkies staan en Angelique 1.5m.

Die twee sussies, Louise (links) en Angelique, is heel gemaklik in ’n vliegtuig.

Oor hul lengte, of eerder die gebrek daaraan, vertel hulle gou dat dit geen struikelblok is nie.

“Dit sou natuurlik gehelp het as ons bietjie langer was, maar ons kom heeltemal goed oor die weg,” vertel Louise.

Sy noem dat sy dit aanvanklik oorweeg het om ’n dokter te word.

“Ek het tog gereeld na die program Air Crash Investigation gekyk en dit was vir my ongelooflik interessant en ek het al hoe meer navorsing begin doen oor vroue in die lugdiens.

“Die gogga het my eintlik al in graad ses gebyt en vandag is ek nog nie vir een oomblik spyt nie,” het sy vertel.

Angelique Olsen is op haar gelukkigste hoog in die lug.

Angelique het ook reeds van hoërskooldae geweet dat dit nie vir haar sal werk om heeldag agter ’n lessenaar in ’n kantoor te sit nie.

Lees ook: Onderwyser wat kankerstryd verloor word vandag begrawe

“Ek was uit die aard van die saak geprikkel deur my sussie se studies en vordering, maar my belangstelling was aanvanklik meer op helikopters ingestel.

“Die werksgeleenthede vir ’n persoon met ’n helikopterlisensie is egter meer ingeperk en ek het toe ook besluit om eerder my lisensie vir ’n vastevlerkvliegtuig te bekom,” het Angelique vertel.

Louise het reeds haar naggradering en teoretiese eksamens vir haar kommersiëlelisensie voltooi en Angelique is besig om haar naggradering te voltooi; ’n vereiste vir ’n kommersiëlelisensie.

Vir beide die sussies was hul solovlugte tot dusvêr ’n hoogtepunt.

“Ek het absoluut fantasties gevoel na my eerste solovlug. Dit is asof alles net ’n werklikheid word en uiteindelik insink,” het Louise gesê.

Louise Olsen het reeds haar naggradering en teoretiese eksamens vir haar kommersiëlelisensie voltooi.

Angelique onthou dat dit die oggend met haar eerste solovlug, in die winter, baie koud was, maar die wind het gelukkig nie gepla nie.

“Nadat ek opgestyg het, het die wind egter erg begin waai en toe ek land was dit in ’n wind wat teen 16 knope gewaai het. Maar as jy opstyg moet jy land en dis presies wat ek gedoen het. Die verligting was groot en die gevoel onbeskryflik,” het sy gesê.

Angelique vertel dat sy ietwat voordeel kon trek uit die leerproses wat sy tot dusvêr beleef het, danksy die feit dat haar sussie haar twee jaar voor is.

Louise sê egter dat sy haar jonger sussie nie te veel gehelp het nie.

“Dit sou nie reg wees indien ek haar met alles gehelp het nie, sy moes op haar eie manier probleme oorkom.”

Beide is dit eens dat dit harde werk en deursettingsvermoë verg.

“Daar is beslis dae dat ’n mens voel jy nie meer kan nie, maar gelukkig staan ons ouers, Chris en Erica (wat in die Seychelles woon), bankvas agter ons,” het Louise vertel.

“Ons is ook baie dank verskuldig aan ons ouers wat onbaatsugtig sorg dat ons, ons drome kan nastreef en uitleef,” het Angelique bygevoeg.

Beide voel baie sterk oor vroue vlieëniers in die werkplek en dat daar meer geleenthede geskep moet word vir veral vroue wat die beroep wil betree.

“Dit is ongelukkig ’n baie duur studierigting om te volg en beurse daarvoor is ook nie maklik bekombaar nie,” het Louise gesê.

“Maar dit is ook ’n beroep wat wonderlike geleenthede bied en ons wil graag ’n sukses daarvan maak,” het sy bygevoeg.

“Baie mense het ’n wanpersepsie van vlieg of van vlieëniers. Dit is nie net ’n kwessie van jy doen ’n paar lesse en daar gaan jy nie.

“Die teoretiese kant is baie ingewikkeld en die studieure is lank en uitmergelend. Mens moet opofferings maak, soos minder tyd saam met vriende spandeer en meer tyd agter die boeke,” het Angelique verduidelik.

Dit is beide se droom om in die toekoms vlieëniers vir ’n gevestigde lugdiens te wees, maar eers wag daar nog baie ure agter die boeke, vlugure om aan te teken, en kontrak- of instruksteurswerk.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

Exit mobile version