Onderwyser wat kankerstryd verloor word vandag begrawe

Anerien se begrafnis vind vanmiddag (Woensdag) om 1nm vanuit die NG Kerk, Brenthurst plaas.

Die begrafnis van ’n geliefde onderwyser van die dorp, wat sedert 2015 ’n hewige stryd met kanker gevoer het, vind vanmiddag (Woensdag) plaas.

Anerien Smit was sedert 2013 aan die Laerskool Môrewag verbonde. Haar man, Henk is ook ’n onderwyser by die skool en dit is waar die twee mekaar ontmoet het.

Anerien en haar man Henk, verlede jaar tydens Demetri se gradeplegtigheid. Hul dogter, Zoë is nou drie jaar oud.

Hul eerste ontmoeting was in Maart 2014 en dit was liefde met die eerste oogopslag.

Hulle is op 28 Februarie 2015 getroud maar hul geluk was van korte duur.

Anerien het drie maande na hul huwelik uitgevind dat sy limfklierkanker (Hodgkins lymphoma) het.

Met dié skoknuus om te verwerk, het sy ook vyf dae later uitgevind dat sy swanger was.

Groot kommer het oor haar swangerskap geheers as gevolg van mediese prosedures wat sy ondergaan het en steeds sou moes ondergaan, weens die kanker wat sy gehad het.

“Ons het maar ’n angsvolle tyd beleef maar was oorstelp van vreugde toe ons dogtertjie Zoë gebore is,” het Henk aan die Herald gesê.

Daar was groot vreugde toe Anerien in Januarie 2016 in remissie gegaan het.

Lees ook: Besigheidsman oorlede

“Ons lewe het in ’n mate na normaal teruggekeer en vir die eerste keer in ’n lang tyd het ek hoop gehad dat my vrou volkome genees sou wees,” het Henk gesê.

In Augustus 2016 was daar egter slegte nuus toe Anerien weer simptome van die kanker begin toon het.

“Dit het nie goed gegaan met haar nie en sy het uiteindelik op 25 Augustus, verlede jaar, ’n beenmurgoorplanting gehad.

Volgens Henk het dit na die oorplanting nie goed gegaan met sy vrou nie en het sy mettertyd al hoe sieker geword.

“Daar was komplikasies met haar lewer en dit was nie moontlik om nuwe behandeling te begin voordat haar lewer nie herstel het nie,” het Henk gesê.

Anerien was vanaf 17 Desember, verlede jaar, in die hospitaal en is op Kersdag toegelaat om huis toe te gaan en tyd saam met haar geliefdes te spandeer.

“Ek het haar die 28ste teruggeneem na die hospitaal waar sy eers in isolasie behandel is.

“Sy is op 10 Januarie na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas en Vrydag (11 Januarie oorlede),” het Henk gesê.

Anerien se seuntjie uit ’n vorige verhouding, Demetri (6), verstaan volgens Henk dat sy ma nie meer daar is nie.

“Ek glo egter nie dat hy begrip het van wat werklik gebeur het nie maar ons sal natuurlik net die beste vir hom doen,” het Henk gesê.

Hy vertel dat hy altyd hoop gehad het dat sy vrou gesond sou word, veral toe sy in remissie gegaan het.

“Die laaste tyd was dit egter duidelik dat dinge nie goed gaan nie en ons is op ’n mate deur haar dokters voorberei,” het hy gesê.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version