Editor's choiceLocal newsNews

In die kollig: Leer die mense in jou dorp ken

Annerette Odendaal is in die kollig die week.

Annerette Odendaal (33) was onlangs ’n finalis in die Mev Gauteng kompetisie, maar sy het ook daarna die Mev Mzantzi Africa titel opgeraap. Sy woon in Dalpark 11.

Jy het onlangs die Mev Mzantzi Africa titel verower. Vertel meer daarvan en wat jou laat besluit het om vir die kompetisie in te skryf?

Die korrekte titel is eintlik Mev Africa Borwa (Sotho vir Suid), alhoewel die kompetisie se titel Mzantzi Africa is.

Nadat ek vroeër vanjaar die top vyf tydens die Mev Gauteng kompetisie gehaal het, was ek gemotiveerd om vir nog ’n kompetisie in te skryf. Die Mev Gauteng kompetisie was verrykend en ek het ses afdelings gewen, naamlik: die rolmodel direkteur toekenning, Mev Gauteng persoonlikheid, asook die toekennings vir entrepreneurs, filantroop en debutante prestasie, en ek het die Gauteng Hero toekenning ontvang. Ek jaag nie titels en krone na nie, maar die pad wat ek gestap het, het vir my baie vreugde verskaf. Dit verbreed ook my kennis.

Wat is meer belangrik vir jou: uiterlike of innerlike skoonheid?

Innerlike skoonheid weerspieël outomaties na buite, wat tog die belangrikste is anders kon ek self nie inskryf vir die kompetisie nie. Ek is gebore met spina bifida, ’n toestand waar die spiere in die lae rug onderontwikkel is. Ek het besluit dat dit nie van my minder mens maak as die mens daar buite nie. Almal het elke dag ’n keuse oor hoe hul die lewe wil aanpak, want dit is in elkeen se hande. Die lewe draai nie om my as individu nie, maar om ook die mooi in ander raak te sien en op te hef waar ek kan.

Wie is jou rolmodel?

Ek het nie een spesifieke rolmodel nie. My rolmodel is die alledaagse persoon wat voluit lewe en ’n verkil maak in ander se lewens.

Waarsonder kan jy nie klaarkom nie?

Ek kan nie klaar kom sonder my geliefdes om my nie, alles is vervangbaar maar nie jou geliefdes nie. Ek was in 2018 in Swaziland op ’n kerk uitreik en ons het in eenvoud gelewe, maar saam het ons dit baie geniet en dit is vir my belangrik as Mev Africa Borwa om in eenvoud te lewe en nie vas te hou aan aardse dinge nie.

Wat maak jou onmiddellik briesend kwaad?

Wat my kwaad maak is ongeregtigheid, van ’n kind in die weeshuis tot geweld en korrupsie want dit beïnvloed ’n individu se mens wees. So in ’n neutedop – ons land se infrastruktuur.

Wat sal jou breed laat glimlag?

’n Kind wat gelukkig is laat my breed glimlag.

Indien jy Suid-Afrika permanent kan verlaat, sou jy en waar sou jy gaan woon?

Ek het al erg deurgeloop met ons land se geweld kwessies. Ek was inteendeel die aand van my kroning die slagoffer van ’n smash-and-grab-voorval, maar ek het genadiglik weggekom met al my besittings en tog besluit om te bly. Ek glo Suid-Afika is my land en ek moet begin met die verskil wat ek wil sien. Ja, ek kan nie almal help nie, maar almal kan iemand help en saam kan ons ’n verskil maak. Ek glo in my Bybelse beginsel om die kwaad te oorwin met die goeie.

Brakpan is vanjaar 100 jaar oud? Wat is jou gunsteling ding omtrent die dorp?

Ek geniet die mense van my dorp. Almal ken amper vir almal en die saamstaan laat my trots voel.

Wat doen jy om te ontspan?

My ontspantyd is saam met my vriende of alleentyd.

Hoe, volgens jou, kan die gewone man op straat daartoe bydra om van die wêreld ’n beter plek te maak?

Ek glo elke persoon kan ’n verskil maak met dit wat hy/sy het. Of dit nou opleiding is of die skenking van kos of klere. Selfs kinders kan ’n verskil maak deur ou speelgoed met behoeftiges te deel. Matrikulante wat klaar is met skool kan hul skryfgoed en tasse gee vir die wat nie het nie. Skoliere wat bevoorreg is kan ’n ekstra broodjie pak vir die wat nie het nie. Koop ’n brood een keer ’n week en gee vir die man op straat in plaas van geld.

Lees ook: Titel sal jong vrou bemagtig om verskil te maak

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button