In die kollig: Leer die Arend van die Jaar ken

Arina Nell van Laerskool Die Arend is in die kollig.

Arina Nell is tydens Laerskool Die Arend se onlangse prysuitdeling as Arend van die Jaar aangewys. Sy woon saam met haar ouers, André en Adri, en sussie, Anke (14), in Sonneveld Estate.

Jy is tydens Laerskool Die Arend se jaarlikse prysuitdeling as Arend van die Jaar aangewys. Wat beteken die toekenning vir jou?

Dit het ongelooflik baie vir my beteken, want ek het van dag een, toe ek verlede jaar in die skool gekom het, hard gewerk. By Laerskool Die Arend word daar werklik erkenning gegee vir jou harde werk, danksy ’n briljante hoof en uitstekende personeel wat harde werk raaksien en beloon.

Jy was ook senior Sportdogter van die Jaar. Vertel meer van jou sportprestasies gedurende die jaar.

Met my deelname aan atletiek het ek tot D5 met gewigstoot gevorder. Met netbal was my span die D5-wenners asook Ekurhuleni naaswenners en tydens die Fast-5 toernooi het ons vyf uit ses wedstryde gewen. Ek het tot Gauteng netbal proewe gevorder en in Fast-5 het ek vir Oos-Transvaal gespeel.

Wat is jou gunsteling sportsoort?

Ek geniet dit regtig baie om netbal te speel.

Van watter sportsoort hou jy glad nie?

Ek hou nie van sokker nie.

Wat was vir jou die hoogtepunt van 2018?

Die hoogte punt was beslis toe die hoof die koevert oopmaak en my as Arend van die Jaar aangekondig het, en ek dus beloon is vir my harde werk.

Was daar enige laagtepunte?

My laaste dag van my laerskool loopbaan was definitief my laagste punt. Ek sou graag ook vanaf graad een in Laerskool Die Arend wou wees. Dit was ook nie lekker om totsiens vir my goeie onderwysers te sê nie.

Wat sal jou boodskap aan die leerders en onderwysers van jou skool wees, noudat jy klaar is met laerskool?

Aan die leerders: Hou aan werk vir dit wat jy wil bereik, dan sal jy sal erkenning kry. Aan die personeel: Baie dankie vir alles, hou aan met ’n positiewe, regverdige gesindheid teenoor die kinders. (Elke goeie skool het ’n goeie hoof nodig.)

Het jy ’n rolmodel? Wie is dit en waarom juis dié persoon?

My ma, want sy is deur baie moeilike tye en nog steeds het sy in my bly glo en my ondersteun.

Wat gaan jy hierdie komende vakansie doen?

Ek en my gesin gaan Buffelspoort toe en as ons terug kom, kom kuier my oupa en ouma van Uitenhage vir ons.

Wat is jou gunsteling kos?

Braaivleis en groente.

Van watter kos hou jy glad nie?

Piesangs en krummelpap.

Indien jy vir ’n dag onsigbaar kon wees, wat sou jy doen?

Net rustig in die mooi natuurskoon gesit en dit bewonder het.

As jy een reël kon maak wat almal in die wêreld moet gehoorsaam en toepas, wat sal dit wees?

Dat alle kinders in alle skole regverdig en met respek behandel word, soos by Laerskool Die Arend.

Beskryf jouself in vyf woorde?

Christen, hardwerkend, eerlik, betroubaar, ’n vrolike avontuurlustige meisie.

Na watter hoërskool gaan jy in 2019?

Hoërskool Oosterlig.

Lees ook: In die Kollig: Leer vir Rouxlé Mostert ken

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

 

Exit mobile version