In die Kollig: Leer vir Rouxlé Mostert ken

Leer die mense in ons dorp ken.

Rouxlé Mostert (13) is onlangs tydens die Laerskool Brakpan-Oos se prysuitdeling as die Oosie van die Jaar aangewys. Sy woon saam met haar ouers, Juandré en Joarita Mostert, in Brakpan-sentraal en is die enigste kind.

Jy is tydens die Laerskool Brakpan-Oos se jaarlikse prysuitdeling as die Oosie van die Jaar aangewys. Wat beteken die toekenning vir jou?

Dis was vir my ’n ongelooflike groot eer om die toekenning te ontvang na al die harde werk wat ek deur die jaar ingesit het. Dit was vir my altyd baie belangrik om ’n goeie beeld van die Laerskool Brakpan-Oos uit te dra. Ek het nog altyd trots gevoel om my skool te verteenwoordig in alles wat ek gedoen het.

Watter ander toekennings het jy tydens die prysuitdeling ontvang?

Ek het erekleure vir kultuur en akademie ontvang, ’n toekenning vir die beste redenaar in graad sewe en vir leierskap.

Wat was vir jou die hoogtepunt van 2018?

Beslis toe die aankondiging gemaak is dat ek Oosie van die Jaar is. Dit was ’n baie spesiale en trotse oomblik om daar te staan en die toekenning te ontvang.

Was daar enige laagtepunte?

Daar was nie eintlik laagte punte in 2018 gewees nie. Elke keer wat ek gedink het dinge gaan nie beter word nie, het dit tog. Ek is so bevoorreg om in ’n skool te kon wees waar leerders ondersteun word in alles wat ons aanpak.

Wat sal jou boodskap aan die leerders en onderwysers van jou skool wees, noudat jy klaar is met laerskool?

Moet nooit opgee as jy ’n doelwit vir jouself gestel het nie. As jy dit kan dink, kan jy dit doen. Die lewe is in ’n oogwink verby. Leef elke dag voluit.

Wat doen jy om te ontspan?

Ek lees graag, doen spinning en ek speel hokkie.

Wat gaan jy hierdie komende vakansie doen?

Net lekker ontspan. Swem, fiets ry, kuier en met ons honde speel. Ek sien uit na hierdie vakansie en ruskans voordat my hoërskool loopbaan begin.

Wat is jou gunsteling kos?

My pa se braaivleis.

Van watter kos hou jy glad nie?

Spinasie en sampioene.

Indien jy vir ’n dag onsigbaar kon wees, wat sou jy doen?

Ek sou Gold Reef City toe gaan en verniet op al die ritte ry.

As jy een reël kon maak wat almal in die wêreld moet gehoorsaam en toepas, wat sal dit wees?

Almal sal ten minste vir twee dae per week moet glimlag en vriendelik wees. Ek sal ook ’n reël instel dat niemand op hul verjaarsdae hoef te werk of skool toe te gaan nie.

Beskryf jouself in vyf woorde?

Sprankelend, vriendelik, hulpvaardig, vasberade en liefdevol.

Na watter hoërskool gaan jy in 2019?

Ek gaan na die Hoërskool Stoffberg.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

Exit mobile version