Vrou (56) sterf by San Michele-tehuis te midde van staking

Dit is egter nog te vroeg om te sê of haar afsterwe aan die staking toegeskryf kan word

’n 56-Jarige verstandelik gestremde vrou is Maandagoggend in die vroeë oggendure by die San Michele-tehuis vir psigiatriese en gestremde staatspasiënte dood te midde van ’n staking deur personeel by dié niewinsgewende organisasie.

Marius Bosman, administrateur van San Michele, het gister (Maandag) die hartseer nuus bevestig.

“Dit is vir ons verskriklike nuus en ons betuig ons innige meegevoel met haar naasbestaandes.

“Dit is egter nog te vroeg om te sê of haar afsterwe aan die staking toegeskryf kan word.

“Ons wil in dié stadium nie oor die oorsaak van haar dood bespiegel nie, maar ’n nadoodse ondersoek sal gedoen word om dit vas te stel.

“Sodra ons al die feite het, sal ons ’n gesamtelike verklaring met Solidariteit Helpende Hand uitreik,” het Bosman gesê.

Werkers van die National Union of Public Service and Allied Workers (NUPSAW), wat verpleegsters en versorgers insluit, het Vrydag op ’n beskermde staking gegaan nadat gesprekke tussen die personeel, die tehuis se bestuur en die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) ’n doodloopstraat bereik het.

Die stakers het op ’n ses persent verhoging aangedring, terwyl die tehuis slegs vyf persent kon aanbied.

Hulle het ook griewe oor hul bonusse gehad. Die tehuis het intussen ingestem tot ’n ses persent verhoging, maar kon nie die behoeftes rakende die bonusse bekostig nie.

Die KVBA het aanvanklik verlede week die staking goedgekeur, maar Maandag van deuntjie verander nadat Bosman ’n klagte daaroor by die KVBA ingedien het.

Die KVBA het daarvolgens Maandag die staking onwettig verklaar aangesien die tehuis noodsaaklike dienste lewer aan meer as 200 staatspasiënte wat van permanente sorg afhanklik is. Talle van dié mense is Life Esidimeni-pasiënte.

Tony Gumede, ’n verteenwoordiger van NUPSAW, het laat gistermiddag, ná die KVBA se bevinding, in ’n brief bevestig dat die staking verby is en dat werkers vandag (Dinsdag) sal terugkeer werk toe.

Bosman het die nuus verwelkom, maar gesê voorbereiding is getref indien die werkers nie vandag opdaag nie.

Hannes Noëth, besturende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het Maandag die dood van die pasiënt, wie se naam weerhou word totdat al haar naasbestaandes van haar dood in kennis gestel is, betreur.

Lees ook: San Michele Home welcomes visitors

Noëth het gesê Helpende Hand gaan in die nabye toekoms ’n gebeurlikheidsplan bekend maak sodat soortgelyke voorvalle verhoed kan word.

Dié gebeurlikheidsplan word beplan na die staking by San Michele, asook twee onlangse stakings by Huis-Davidtsz, ’n ouetehuis in Pretoria se middestad, waar talle bejaardes die slagoffers was.

“Ondanks ons vrywilligers, asook dié van die publiek en ander organisasies se hulp oor die naweek en die feit dat Helpende Hand gekwalifiseerde verpleegsters en versorgers gehuur het, was dit steeds nie genoeg om die nodige stabiliteit te handhaaf nie.

“Vyf dokters was gister (Maandag) by die tehuis om elke pasiënt behoorlik te ondersoek. Ons hoop saam met die tehuis dat bedrywighede vandag na normaal sal terugkeer, maar sal ook intussen volhou om te sorg dat die basiese behoeftes voorsien word,” het hy gesê.

Mariette van de Werken, streekbestuurder van Helpende Hand se Gauteng-Suidstreek, wat sedert Vrydag reëlings getref het om die inwoners te versorg, het Maandag almal wat hul harte vir die weerlose pasiënte oopgemaak het, bedank.

“Hier was soveel hartseer en onsekerheid die afgelope vier dae. Die gemeenskap het net hul harte oopgemaak en ons kom bystaan.

“Ek wil graag dankie sê aan die gemeenskap en al die rolspelers wat saamgekom het in ’n tyd van nood. Om te kon sien hoe die familielede, Helpende Hand vrywilligers en inwoners van die Oos-Rand saamgestaan het, het my hart warm gemaak.

“Dit het ook ’n reuse verskil aan die tehuis se inwoners gemaak en mens kon dit in hul glimlagte sien,” het Van de Werken gesê.

Helpende Hand administrateur steeds geldelike skenkings wat die publiek aan die tehuis wil skenk.

Vind die bankbesonderhede by www.helpendehand.co.za Gebruik San Michele as verwysing.

Die tehuis kort ook gereelde skenkings van doeke vir volwassenes, klere, onderklere, skoene en toiletware.

Dié goedere kan by enige Helpende Hand-tak of by die tehuis afgelewer word.

Vir meer inligting oor die tehuis, besoek www.sanmichele.co.za

Follow us:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

 

 

Exit mobile version