Editor's noteLocal newsNews

In die kollig: Leer Laerskool Dalview se nuwe hoofdogter ken

Thandi du Toit is in die kollig die week.

Thandie du Toit (12) is Laerskool Dalview se hoofdogter vir 2019. Sy woon saam met haar ouers, Neels en Yolandie du Toit, asook haar sussies Carli (6) en Ludrè (4) in Sonneveld.

Lees ook: Laerskool Dalview se top presteerders

Jy is Donderdagaand as die Laerskool Dalview se hoofdogter vir 2019 aangewys. Wat het deur jou kop gegaan toe jou naam uitgelees is?

Ek kon dit nie glo nie, ek kon net huil oor hoe gelukkig en trots ek gevoel het. Ek moes myself so paar keer knyp om seker te maak ek droom nie. Ek was baie verras.

Benewens dié groot prestasie het jy ‘n hele rits ander toekennings ontvang. Wat het dit ingesluit?

Senior redenaar 2018 (trofee), graad ses redenaar van die jaar (trofee), senior kultuur beker 2018 (trofee), beste akademiese presteerder in graad ses (trofee), dubbelspel tennis 2018 saam Venice van Vollenhoven (trofee), lourier toekennings vir akademie, lourier toekenning vir kultuur, meriete vir kultuur en vier meriete prestasies vir sport.

Wat beteken dit vir jou, om hoofdogter van jou skool te wees?

Dit beteken vir my alles. Dit is vir my so groot eer en voorreg om die hoofdogter van Laerskool Dalview te kan wees. Ek is ‘n trotse Dalwer in murg en been. Ek weet ek is in hierdie posisie geplaas vir ‘n rede en daarom sal ek my beste gee vir my skool en mede-Dalwers.

Waarna sien jy die meeste uit?

Om in 2019 saam met my mede-leiers ‘n verskil te maak en vir elke Dalwer en Dalvoetjie ‘n goeie voorbeeld te stel. Ek sien ook baie uit na die leierkamp van volgende jaar en om my skool te lei. Dit gaan ook vir my lekker wees om in die saal op ‘n stoel te sit.

Waarvoor is jy maar bietjie skrikkerig?

Leiers word aan strenger standaarde gemeet en ons het groot skoene om vol te staan, maar ek weet dat ons tot alles in staat is deur Christus wat ons krag gee. Asook die onbekende van hoofdogter wees.

Wat maak ‘n goeie leier?

Oud-President Nelson Mandela het gesê ‘n goeie leier is ‘n kombinasie van ‘n goeie kop en ‘n goeie hart. Dit is so mooi gestel.

Dink jy dit is belangrik dat skole leiers aanstel?

Ja, ek dink dit is belangrik dat skole leiers moet aanstel sodat hulle leierskap by kinders kan ontwikkel, maar nie om te kompeteer nie.

Hoe voel jy oor boeliery in enige skool?

Boeliery is vir my ‘n baie hartseer ding wat in skole aangaan. Dit is gewoonlik kinders met ‘n swak selfbeeld wat boelie en daarom moet mens probeer om almal se selfbeeld op te bou. Gelukkig het Laerskool Dalview ‘n Boelieprojek begin wat hierdie situasie positief benader.

As jy vir een dag die president van die land kon wees, wat sou jy doen?

Ek sou doen wat reg is en vir elke werklose mens in Suid-Afrika ‘n werksgeleentheid gee.

Hoe hanteer jy uitdagings en teleurstellings?

Ek probeer die beste van die saak maak en ek bid tot God om vir my die moed en krag te gee om deur dit te kom. Ek glo alles gebeur met ‘n rede, of dit goed of sleg is. Daar is altyd ‘n les om uit ‘n situasie te leer.

Wat maak jou gelukkig?

Ek is op my gelukkigste as ons gaan kamp. Ek geniet dit ook baie om te gaan fliek en saam my vriendinne te kuier.

Beskryf jouself in vyf woorde

Ek is nederig, vriendelik, pligsgetrou, eerlik en doelgedrewe.

Wat doen jy graag in jou vrye tyd?

Ek speel kitaar, lees boeke en swem graag.

Wat is jou gunsteling kos?

Sushi, ek is mal oor die verskillende teksture wat in jou mond ontplof.

Aan watter kos sal jy nie jou mond sit nie?

Jogurt, beestong en afval.

Lees ook: Laerskool Dalview se Thandi palm die medaljes in

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

Related Articles

Back to top button