Begrafnisgangers vuur steeds skote na willekeur af

Die Herald het in Julie vanjaar ook oor dié gevaarlike en onverantwoordelike gewoonte wat gereeld voorkom berig.

Die onaanvaarbare gebruik waar begrafnisgangers na willekeur skote afvuur tydens ’n begrafnis het Sondagmiddag weer gesorg dat inwoners van veral Brenthurst warm onder die kraag geraak het.

Onophoudelike geweervuur het net na 12middag in die woonbuurt weergalm en ten minste twee inwoners het patroondoppies op hul dakke aangetref.

Die Brakpan Begraafplaas.

Die Herald het in Julie vanjaar ook oor dié gevaarlike en onverantwoordelike gewoonte wat gereeld voorkom berig.

Na aanleiding van dié berig het die woordvoerder van die Ekurhuleni EMPD, hoof supt Wilfred Kgasago, dit duidelik gestel dat die afvuur van ’n vuurwapen in ’n residensiële area, sonder wettige rede, inderdaad teen die wet is.

“’n Vuurwapen wat afgevuur word veroorsaak ’n gevaarlike situasie aangesien dit die gevaar inhou om mense te beseer of selfs te dood. Beskadiging van eiendom kan ook voorkom,” het Kgasago bygevoeg.

Samantha Ross (35), wat in Pienaarstraat woon, was buite saam met gesinslede besig om potjiekos te maak toe hulle die geweerskote gehoor het.

“Dit gebeur dikwels en ons was eintlik besig om dit te bespreek toe ons ’n vreemde geluid op die motorafdak hoor,” het sy gesê.

Lees ook: EMPD gaan ondersoek instel na skietery by begraafplaas

Haar man het op die afdak geklim en die patroondoppie ontdek.

“Dit is heeltemal onaanvaarbaar en ons sal beslis die doppie by die polisiestasie gaan inhandig en die voorval aanmeld,” het sy gesê.

Nog ’n inwoner, wat in Duncanstraat woon, het ook ’n patroondoppie op sy huis se dak aangetref.

DA raadslid van die woonbuurt Brandon Pretorius het ook sy misnoeë met die situasie te kenne gegee.

“’n Mens kan nie help om te wonder of Brenthurst ’n begraafplaas of skietbaan het nie,” het hy gesê.

“Hierdie gedrag, wat byna op ’n weeklikse basis voorkom, is totaal en al onaanvaarbaar.

“Ek vind dit tog vreemd dat die begrafnisstoet normaalweg deur die EMPD begelei word maar dat die begraafplaas tog in ’n oorlogsone verander word.

“Dit is noodsaaklik dat die EMPD en SAPD saam sal optree en verseker dat die persone, wat dink dit is aanvaarbaar om na willekeur skote af te vuur, gearresteer word,” het Pretorius gesê.

Hy het bygevoeg dat die voorval ook by die DA se skadu-lid van die burgemeester se komitee vir gemeenskap veiligheid, rdl Dean Stone, aangemeld is.

Volg ons: 

Instagram

Twitter

Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

Exit mobile version