In die kollig: Leer vir Jolindi Zietsman ken

Mej Stoffie 2018 is in die kollig die week.

Jolindi Zietsman (16) is onlangs as mej Stoffie 2018 aangewys. Sy het twee ouer susters Marli (24) en Leandri (22) en woon saam met haar ouers, Hanli en Paul, in Brenthurst.

Wat het jou laat besluit om deel te neem aan die mej. Stoffie kompetisie?

Ek het besluit om deel te neem om ervaring op te doen en omdat my vriendin my ingeskryf het.

Behalwe dat jy gewen het, wat was vir jou ’n hoogtepunt?

Die feit dat ek en my vriendin saam kon bid al was ons in kompetisie met mekaar.

Hoe het dit gevoel toe jou naam uitgelees is?

Ek was verras en geweldig dankbaar.

Het jy al voorheen aan soortgelyke (skoonheidskompetisies) deelgeneem?

Ek het verlede jaar ook deelgeneem aan mej Stoffie maar buiten dit, het ek nog nooit aan ’n skoonheidskompetisie deelgeneem nie.

Is uiterlike skoonheid belangriker as innerlike skoonheid?

Innerlike skoonheid is seker dié belangrikste aspek van die lewe. Jou dade en woorde weerspieël dit wat in jou hart is. As jy ’n mooi hart het, maak dit jou innerlik ’n mooi mens. “Waarvan die hart van vol is loop die mond van oor”. Uiterlike skoonheid is net ’n bonus maar ware skoonheid kom van binne.

Is daar hoop vir die jeug van hierdie land?

Daar is altyd hoop. Dit hang af van hoé ons as mense op elke situasie of uitdaging reageer. Ek glo daar is meer as net hoop vir die jeug, daar is geleenthede in elke uitdaging. Daar is soveel goeie dinge in die lewe. Al wat ons moet doen is om te konsentreer op die goeie, daarop te bou en seker te maak dat dit meer is as die slegte dinge.

Is sosiale media ’n euwel of ’n wonderlike ding?

Sosiale media het ’n positiewe sowel as ’n negatiewe kant. Dit hang af hoe jy dit gebruik. Die positiewe is dat jy goeie nuus vinnig kan versprei en in kontak kan wees met verskeie mense. Die negatiewe is dat mense dit misbruik en onwaarhede en valse gerugte versprei. Daar is nie sosiale polisie nie. Jy bepaal die positiewe en negatiewe impak van jou boodskap en moet dan die verantwoordelikhede daarvan dra.

Hoeveel tyd spandeer jy op jou selfoon ?

Ek en my selfoon is glad nie geheg aan mekaar nie en daarom is ek en my honde beter maatjies.

Het jy enige stokperdjies?

My stokperdjies is om te sing, dans, te teken, foto’s te neem en gedigte te skryf. Ek is mal daaroor om drama te doen en flieks te kyk, bloot oor die feit dat ’n mens altyd iets daaruit kan leer.

Wat is jou gunstelingvak op skool en hoekom?

Ek glo mens moet vakke neem waarna jy kan uitsien. My twee gunstelingvakke is drama en besigheidstudie. Op Maandae neem ek drama as ’n agtste vak na skool. Dis altyd opwindend en ’n uitdaging. Besigheidstudies is ’n wonderlike vak want dit leer jou nie net om ’n suksesvolle sakevrou te wees nie, maar ook ’n suksesvolle mens te wees wat kritiese besluite moet kan neem.

Watter beroep wil jy eendag volg en waar sien jy jouself oor tien jaar?

Ek vra myself altyd: “If your dreams and your fears existed in the same place, would you still go there?”

“My answer is yes because you can conquer your fears but if you give up on your dreams you’ll die.”

Ek sal graag in die kunstewêreld betrokke wil raak. Ek wil sing, dans en ’n aktrise wees wat in musiekblyspele optree en mense se harte aanraak. Aan die anderkant wil ek my eie besigheid suksesvol bestuur en genoeg geld maak om minderbevoorregde mense te kan help.

• Indien jy ’n dag saam met enigiemand op aarde kan deurbring, wie sal dit wees en waarom?

Ek sou graag ’n dag saam met Celine Dion wou deurbring. Sy is ’n fantastiese sangeres wat haarself deur en deur in ’n moeilike industrie bewys het. Maar meer haalbaar is Amira Willighagen wat ’n 14-jarige internasionale sangeres is wat tans in Potchefstroom bly. Sy is self nog ’n kind wat wil sien dat ander kinders ook die kans kry om te speel en te lag en daarom dra sy by om speelgronde vir mindergegoede kinders te laat oprig. Dit sal ’n groot voorreg wees om haar te ontmoet.

Wat maak jou kwaad?

As mense skinder en mekaar afkraak, veral as hul voorheen vriende was. Ons moet in liefde met mekaar saamleef en as ons mekaar slegsê dan verdwyn daardie liefde dadelik.

Wat laat jou glimlag?

As daar nou een ding is wat my laat glimlag is dit reën. Dit klink dalk snaaks maar ek voel dat elke druppel wat val ’n teken van God se genade is wat Hy oor ons uitgiet. Verder is dit ’n baba hondjie wat net liefde soek en baie liefde het om te gee.

Lees ook: Two local stars perform in Strictly Broadway 2019

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version