CrimeEditor's noteNews

Nagmerrie toe slapende broers deur inbrekers verras word

Een van die broers (34) het vertel dat die voorval net na 4vm Saterdagoggend plaasgevind het.

Twee broers is Saterdagoggend vroeg in hul ouerhuis in Anzac deur drie inbrekers oorval, aangerand en vasgebind waarna die booswigte verskeie waardevolle items gebuit het.

“Ons ouers het gaan visvang en ek en my broer (35) het nog geslaap.

“Ek het wakker geword toe ek die lig van ’n flitslig in die huis sien en het opgestaan om ondersoek in te stel.

Die man het hom in die gang in drie inbrekers vasgeloop en hy is beveel om op die grond te gaan lê.

“Ek het so gemaak maar is nietemin in die ribbes en op my been geskop voordat ek met ’n das vasgebind is.

“Een van die inbrekers het by my gebly terwyl die ander twee na my broer se kamer gegaan het.

Lees ook: Bejaarde vrou (79) van Brakpan genadeloos aangerand en byna verkrag

“My broer het hom probeer verset teen die mans en is in die proses herhaaldelik in die gesig geslaan.

“Ek het vir hom geskreeu om plat te gaan lê en te doen soos die mans beveel het, maar ek glo nie hy het my gehoor nie.”

Die man in die kamer is met skoenveters en draad vasgebind voordat die inbrekers talle elektroniese toestelle en selfone uit die huis gedra en op die vlug geslaan het.

“Toe dit stil raak kon ek daarin slaag om by my broer se kamer uit te kom, waarna ek hom losgemaak het. Hy het my hande daarna losgemaak.”

“Dit was ’n baie onaangename ervaring en my raad aan ander mense sal wees om liewer te maak presies soos jou aanvaller sê,” het die man gesê.

“Aardse besittings kan vervang word maar nie ’n lewe nie.”

Die inbrekers het toegang tot die huis verkry deur die voordeur oop te breek.

Die voorval word deur die Brakpan SAPD ondersoek.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

Related Articles

Back to top button