Editor's choiceLocal newsNews

Geen sekuriteit by begraafplaas skep probleme

’n Groep van sowat 40 inwoners het Sondag beskadigde en gevandaliseerde grafte in die Brakpan Begraafplaas gaan herstel.

Die projek wat deur sektor drie van die Gemeenskap Polisiëringsforum (GPF) geïnisieer is, is ondersteun deur lede van die AfriForum Brakpan-tak, die Spotter Owls Buurtwag-groep asook lede van die publiek.

Dít volg nadat meer as 20 grafte voorverlede naweek, in die nuwe gedeelte van die begraafplaas dig teen die omheiningsmuur, erg beskadig is.

DA raadslid Brandon Pretorius het die vandalisme ten sterkste veroordeel en die skuld voor die deur van die Ekurhuleni metro gelê.

Die groep mense wat Sondag hul tyd opgeoffer het om gevandaliseerde grafte in die Brakpan Begraafplaas te gaan herstel.

“Daar is geen sekuriteit by die begraafplaas nie en enigiemand kan enige tyd van die dag of nag toegang verkry,” het Pretorius gesê.

“Die onlangse voorval van vandalisme is niks nuut nie en die metro is al voorheen genader oor die kwessie van sekuriteit.

“Die antwoord bly dieselfde en geen vordering word gemaak nie,” het Pretorius gesê.

Hy het egter bygevoeg dat die DA hard veg vir die begraafplaas en dat dit as ’n item in die “Integrated Development Plan”(IDP)-begroting geplaas is.

“Daar is ’n R8-miljoen kapitaal goedkeuring vir die 2018/2019 finansiële jaar en ons sal alles in ons vermoë doen om te verseker dat die metro die fondse wel spandeer en kwaliteit werk verskaf.

“Die spesifieke plan rondom die verbetering by die begraafplaas is nog nie bekend nie, maar die groter gedeelte van die begroting sal na verwagting aangewend word om die begraafplaas te vergroot.”

Lees ook: Is goed dan nie eens veilig in die begraafplaas nie?

Volgens Pretorius sal die fondse ook aangewend word om ’n omgewingsimpakevaluering vir die vergroting te doen. Daar sal ook gekyk word na ’n herdenkingsmuur, ablusiegeriewe en plaveisel.

AfriForum Brakpan-tak se ondervoorsitter en forumhoof: Plaaslike Regeringsake, Drummond Doig, was ook Sondag teenwoordig om saam met die groep vrywilligers die grafstene tot ’n redelike mate te herstel.

Op antwoord oor sy mening rakende die algemene toestand van die begraafplaas en die gereelde vandalisme, het hy die volgende te sê gehad:

“Die Ekurhuleni metro toon geen belangstelling in dit wat vir die gemeenskap van Brakpan belangrik is nie.

“Die aangeleentheid is ’n voortslepende en frustrerende kwespunt om die metro tot verantwoording te bring om hulle mandaat te vervul en verantwoordelikhede teenoor die gemeenskap gestand te doen, veral met betrekking tot instandhouding, sekuriteit, en gewoon die algemene onderhoud van ’n openbare begraafplaas,” het Doig gesê.

Oud en jonk het moue opgerol en gehelp.

“Daar is ’n goed gedokumenteerde dossier, met relatief eensydige briefwisseling, tussen die takbestuur en die metro se stadsbestuurder en amptenare rakende die voortgesette verval, toenemende vandalisme, en merkbare gebrek aan sekuriteit,” het Doig bygevoeg.

Volgens hom word klagtes en versoeke blatant geïgnoreer.

“Die enigste alternatief vir enige gemeenskap is om homself te staal en staatsbestand te word. Dit beteken ongelukkig dat, desondanks die staat se pligte, ons self sal moet moue oprol, en herbou en onderhou, wat vir die plaaslike regering blykbaar ’n bonatuurlike uitdaging is.

“ Die metro ontbreek beide die wil en basiese vaardighede om professioneel te voldoen aan die grondvereistes soos in Wet op Plaaslike Regerings vervat.

Lees ook: EMPD gaan ondersoek instel na skietery by begraafplaas

“Dis duidelik dat die metro geen steun kan, of wil bied nie. Ons as gemeenskap sal moet eienaarskap neem van ons omgewing. Ons belastings word op allerlei maniere verkwis en wan aangewend, alles behalwe vir dit waarvoor ons betaal,” het Doig gesê.

Anthony Engelbrecht, voorsitter van sektor drie van die GPF het almal bedank wat Sondag hulle tyd opgeoffer het om te help.

“Ons het sowat 20 grafstene so goed herstel as wat ons kon en het ook rommel opgetel en verwyder,” het Engelbrecht gesê.

“Dit is ook nie die laaste keer dat ons hier werk sal doen nie. Daar is nog baie grafte wat dringend aandag nodig het en ons sal voortgaan om daaraan aandag te gee,” het hy gesê.

Engelbrecht het raadslid Pretorius en die Ekurhuleni metro geloof vir die herstel van die omheiningsmuur.

’n Gedeelte van die muur is verwyder, wat oortreders baie maklik toegang tot die begraafplaas gegee het.

’n Inwoner van die dorp, wie se seun se graf een van dié was wat beskadig is, het ook haar frustrasie te kenne gegee oor die muur wat ’n ope uitnodiging aan kwaaddoeners gebied het.

Petro Oelofse (43) van Dalview het aan die Herald gesê dat die muur vir ongeveer ’n jaar ’n groot gaping gehad het.

Haar seun, wat in 2016 oorlede is, is in die gedeelte begrawe, waar die vandale toegeslaan het.

“Benewens die feit dat dit ontstellend is, is daar ook finansiële implikasies,” het Oelofse gesê.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

Related Articles

Back to top button