CrimeEditor's noteNews

Bejaarde vrou (79) van Brakpan genadeloos aangerand en byna verkrag

Die grusame beserings wat sy tydens die nagmerrie opgedoen het getuig van die hel waardeur die goed versorgde vrou (haar naam word weerhou) gegaan het.

’n Tenger 79-jarige vrou is Saterdag, vermoedelik in die vroeë oggendure, in haar tuinwoonstel aan die genade van twee gewetenlose inbrekers, wat haar geslaan, gesteek en probeer verkrag het, gelaat.

Die Herald het haar Dinsdagoggend in die hospitaal waar sy behandel word besoek en gehoor van die angsvolle oomblikke toe sy gedink het sy gaan sterf.

Die voorval het in Anzac plaasgevind. Sy huur ’n tuinwoonstel en sou Saterdag na ’n nuwe blyplek verhuis.

“Ek het Vrydag al my goed gepak en ek was redelik gedaan en het teen 8nm in my bed gaan klim.

“Ek was nog so rukkie doenig met my selfoon en skootrekenaar, maar het daarna aan die slaap geraak.”

Sy vertel dat sy wakker geword het toe twee mans reeds by haar in die kamer was.

Die vrou het, ten spyte van die steekwonde wat sy opgedoen het, erge beserings aan haar bene opgedoen.

“Ek het opgespring en myself probeer verdedig,” het die vrou vertel.

Volgens haar het die mans haar maklik oorweldig en het sy op die vloer langs die bed te lande gekom.

“Ek dink ek moes by tye bewusteloos gewees het want ek kan nie presies onthou wat die hele tyd gebeur het nie.

“Ek was wel bewus van die een man wat op die bed was en my herhaaldelik met ’n skerp voorwerp gesteek het.”

Lees ook: Steun AfriForum se teenboelieveldtog

(Daar is later vasgestel dat dit ’n skroewedraaier was.)

Sy het ’n diep steekwond onder haar linkerbors opgedoen. ’n Steekwond aan haar regterarm moes ook met steke geheg word en ’n vleiswond aan haar linkerarm word ook behandel.

Haar grootste vrees is bewaarheid toe daar gepoog is om haar te verkrag.

“Ek is nie seker of dit net die een man was nie maar ek weet dat daar ses keer gepoog is om my te verkrag.

“Met die genade van die Here kon hulle egter nie daarin slaag nie en was ek die oorwinnaar wat dit betref.”

Die vrou vertel dat sy die een man se groot neus nooit sal vergeet nie.

“Sy gesig was naby myne en alhoewel dit donker was in die vertrek kon ek sy groot neus sien.”

Volgens haar het haar aanvallers nooit met haar gepraat nie.

“Ek kon by tye agterkom dat hulle in die kombuis met mekaar gepraat het maar vir my het hulle niks gesê nie.

“Ek het op ’n stadium, toe ek weer aangerand is, gemaak of ek nie meer lewe nie en ek glo dit het eintlik my lewe gered.”

Die vrou vertel dat sy geen benul het van hoe lank sy getreiter is nie.

“Ek het, nadat dit stil geraak het in die huis, gesien dat dit 4vm was.”

Die erg bebloede vrou het ’n besem gevat en na die hoofhuis gestrompel waar sy teen ’n venster geslaan het.

“Die mense in die hoofhuis het my te hulp gesnel en na die hospitaal geneem.”

Daar is toe vasgestel dat die inbrekers ook goedere uit die hoofhuis gebuit het.

“Ek het baie van my besittings verloor aangesien alles gepak was.”

Haar klere was in tasse gepak en dit is alles gesteel tesame met haar televisie, skootrekenaar, selfoon en ander besittings.

“Ek is veral hartseer oor die ring en hangertjie wat van my afgeruk is asook al my ander juweliersware wat in ’n tas was.

“Ek dank die Here dat ek hierdie ervaring oorleef het. Dit is vir my baie belangrik om ander mense, en veral vroue, te waarsku.

“My plek was veilig, of so het ek gedink. ’n Mens kan nooit te versigtig wees nie. ’n Mens weet nooit waar en wanneer iemand gaan poog om jou lewe te neem of jou seer te maak nie.”

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

Related Articles

Back to top button