Ma red nege maande oue tweeling uit brandende huis

Die brand, wat maklik in ’n tragedie kon ontaard, is gou onder beheer gebring danksy flinke optrede van lede van die Brakpan Radio Groep, personeel van Brakanjan Kleuterskool en ’n 10-jarige meisie wat alarm gemaak het.

’n Jong ma moes laat Dinsdagmiddag skarrel om haar nege maande oue tweeling na veiligheid te bring toe ’n brand in die gesin se huis in Cardiganlaan ontstaan het.

Patricia Smit (21) het Woensdagoggend aan die Herald gesê dat sy ongeveer 5nm in die sitkamer van die huis, wat langs Brakanjan Kleuterskool geleë is, gesit het.

Lede van die Brakpan Radio Groep was blitsvinnig by die huis en het gesorg dat die brand onder beheer gebring word.

“Een van die tweeling, Michaela, was by my terwyl haar sussie Monique in haar bababed in haar kamer was. My twee seuns Raymond (3) en Jay (2) het buite gespeel.”

Patricia vertel dat sy op ’n stadium opgestaan het om ’n lappie in die spens te gaan kry.

“Toe ek terug loop na die sitkamer het ek gesien dat daar rook in die huis was.

“Ek was steeds nie seker wat besig was om te gebeur nie maar my eerste gedagte was om die babas uit die huis te kry.”

Brakanjan Kleuterskool het vir Michaela in die sitkamer gaan haal en op die vloer in die waskamer gaan neerlê.

“Daarna het ek na Monique gehardloop, maar daar was reeds so baie rook dat ek gesukkel het om by haar uit te kom,” het Patricia vertel.

Lees ook: Honde in die huis help nie veel

Sy kon daarin slaag om die babas na buite te neem en het terselfdertyd gesien dat die twee seuns buite gevaar was.

“Alles het daarna baie vinnig gebeur. Ek het gesien dat mense probeer het om oor die hek te klim. Ek het die tweeling oor die hek vir mense aangegee en toe die sleutel gaan kry om die hek oop te maak.”

Personeel van Brakanjan Kleuterskool het intussen oor die muur geklim en die twee seuns na veiligheid gebring.

Die kleuterskool se brandblussers en brandslang is ook ingespan om die brand te probeer blus.

Die ander held in die verhaal is die 10-jarige Sonique Pretorius van Wright Park in Springs wat by haar oom Ryno Griesel gekuier het.

Ryno se huis is langs die huis waar die brand ontstaan het.

Volgens inligting het Sonique die rook opgemerk en na haar oom gehardloop om te sê dat die huis aan die brand is.

Sonique Pretorius van Wright Park in Springs het gou alarm gemaak toe sy rook gewaar.

Ryno, wat ’n lid van die Brakpan Radio Groep is, het dadelik hulp ontbied.

Lede van die Brakpan Radio groep het blitsvinnig gereageer en daar is gepoog om die brand onder beheer te bring.

Dit was ook ’n lid van die groep wat na die brandweerstasie gery het om die nooddienste na die toneel te ontbied.

“Ons is baie dankbaar vir almal wat kom help het,” het Patricia gesê.

Sy en haar man Carel Roberts kon Dinsdagaand nie in die huis slaap nie en het met die kinders by ’n familielid gaan oornag.

Die ouerpaar was Woensdagoggend oor die ergste skok maar was verslae oor die feit dat al die kinders se klere, beddegoed en ander besittings in die brand vernietig is.

“Al die kinders se klere was in die seuns se kamer, waar die brand ontstaan het. Hulle het basies net die klere wat hulle aangehad het en ’n paar stukkies kledingstukke wat op die wasgoedlyn was,” het Patricia gesê.

• So kan jy help

Inwoners wat klere, komberse, doeke en formule wil skenk kan dit by die Herald se kantoor te Van der Waltweg 61 aflaai.

Doeke (nommer 4), formule (Infacare), seunsklere (vir ’n twee- en drie-jarige seun) en baba klere (vir die nege maande oue tweeling) asook beddegoed sal verwelkom word. Die Herald sal sorg dat dit by Patricia en Carel uitkom.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Exit mobile version