In die kollig: Leer die direkteur van Mother’s Nest ken

Laetitia Pannell is in die week se kollig.

Laetitia Pannell (72) is die direkteur van Mother’s Nest in Brenthurst. Die kinderhuis het sy ontstaan 25 jaar gelede gehad en die kenmerkende spierwit gebou is ’n veilige hawe vir mishandelde kinders van alle ouderdomme.

Hoe lank is jy al by Mother’s Nest betrokke?

Ek is sedert die ontstaan van die kinderhuis reeds hier. So dit is nou ’n hele 25 jaar maar eintlik voel dit nog soos gister. Wanneer ’n mens geniet wat jy doen, of ’n passie het vir jou werk, vlieg die tyd.

Hoeveel kinders word daar tans by Mother’s Nest gehuisves?

Op die oomblik is daar 12 kinders, maar die getalle wissel deurentyd. Ons neem seuns en meisies in.

Hoe het jy by die huis betrokke geraak?

Ek was aanvanklik ’n fondsinsamelaar en ook huismoeder, maar is later aangestel as direkteur.

Wat is die grootste uitdaging wat met jou werk gepaard gaan?

Om liefde en sekuriteit aan ons kinders te voorsien is ’n groot prioriteit, maar dan is dit ook noodsaaklik om aan al hul basiese behoeftes te voorsien.

Watter deel van jou werk geniet jy die meeste?

Dit is baie bevredigend om vreugde op die kinders se gesigte te sien. Om te weet dat ons hulle voorberei vir ’n beter toekoms is ook iets wat my aan die gang hou.

Hoe neem jy afskeid van ’n kind wat vir ’n lang tyd in die huis was, en hou jy kontak daarna?

Dit is baie hartseer om hulle te sien gaan, maar ons hou kontak deur middel van sosiale media, telefoonoproepe en besoeke.

Is jy van mening dat daar genoeg gedoen word om kinders en hul regte te beskerm?

Dit is iets waaraan deurentyd aandag gegee moet word, maar samewerking met die regte organisasies, soos Kinderwelsyn, sorg vir positiewe uiteindes.

Indien jy enige ander beroep kon kies, wat sou dit wees?

Ek sou beslis net weer doen wat ek nou doen. Ek is baie gelukkig daarmee.

Wat sou jy met ’n miljoen doen?

Ek sou beslis terug ploeg in Mother’s Nest.

Wat is jou gunsteling gereg?

Ek sê nooit nee vir ’n lekker lamstjoppie nie.

Lees ook: Bikers treat Mother’s Nest children

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Exit mobile version