Gebruikte kondome en stinkende gang begroet egpaar

Dienslewering is blykbaar nie deel van die lisensiekantore se betaalde kontrak nie.

Inwoner skryf per e-pos:

Ek en my man was verlede week by lisensiekantore en was maar baie huiwerig om daar in te gaan.

Die kort gangetjie waardeur ’n mens moet stap, om by die ingang van die gebou uit te kom, is baie vuil.

Daar is gebruikte kondome wat rondlê asook ou skoene en ander gemors en daar hang ’n skerp reuk van uriene in die lug.

’n Paar ou skoene op ’n trappie.

Sodra jy by die ingang van die gebou kom moet jy maar mooi trap want daar word ook nie moeite gedoen om die duiwe se gemors skoon te maak nie.

As jy dit wel tot binne maak, word jy begroet deur ’n klein, ongemerkte toonbank.

Toe ons vra waarheen ons moes gaan vir die besigheid wat ons moes afhandel, word daar met ’n vinger vir ons gewys waarheen om te gaan.

Daar is geen orde nie. Daar sit mense op stukkende stoele en wag, maar niemand is regtig seker waarvoor hulle moet wag of waar hulle moet wees nie.

Die mense agter die toonbank, wat ons moes help, was ook nie op hul pos nie.

Sodra een van hulle vinnig inloer om iemand gou te help is dit ook net een persoon wat gehelp word en dan verdwyn dit weer vir ’n uur.

Blykbaar is dienslewering nie deel van hul betaalde kontrak nie. Ek is vreeslik jammer, maar dit is swak en patetiese dienslewering.

(Brief verkort)

Lees ook: Die skote klap in Brenthurst

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Exit mobile version