Twee vroue, ses jong kinders agter gelaat na ongeluk

Beide die vroue is in die tyd dankbaar vir hul onderskeie ondersteuningsnetwerke.

 

’n Ongeluk wat onlangs drie jong mans van die dorp se lewens geëis het, het ook twee weduwees, wat elk drie jong kinders het, nagelaat om nou, sonder die liefdes van hul lewens, die stukke op te tel en voort te gaan.

Die Herald het berig van die ongeluk wat op 9 Junie in Zig Zagweg, Springs, plaasgevind het.

Armand Brits (32) en sy jonger broer Ruan (17) is opslag dood, toe die bakkie wat Armand bestuur het buite beheer geraak en gerol het.

’n Vriend van die twee broers, Lajos van Zyl (32), is ook in die ongeluk dood.

Ruan was ’n matrikulant aan die Hoërskool Stoffberg.

Die ongeluk het Armand se vrou Anita (27) en Lajos se vrou Alyssa (26), wat ook beste vriendinne is, agter gelaat met ses kinders tussen die ouderdomme van drie en nege jaar.

Anita, wat die aand van die ongeluk voor langs haar man gesit het, het frakture aan beide haar arms opgedoen.

Sy vertel dat sy bitter min van die ongeluk kan onthou.

“Ek kan nie onthou toe die bakkie gerol het nie maar nadat dit tot stilstand gekom het, het ek gevoel dat ek nie kon beweeg nie,” het sy vertel.

Anita moes uit die bakkie gesny word en vertel dat sy eers ondraaglike pyn gevoel het toe sy uit die wrak gehaal is.

Sy is na ’n hospitaal geneem waar sy later operasies aan beide haar arms ondergaan het.

“My regterarm het goed herstel en ek kan dit effens gebruik maar ek is bekommerd oor my linkerarm,” het sy Dinsdagoggend aan die Herald gesê.

Dié arm herstel nie na wense nie en sy sou weer Dinsdag ’n dokter sien.

Anita, wat haar eie haarsalon bedryf, kan op die oomblik, as gevolg van haar beseerde arms, nie werk nie.

“Dit is ’n groot kommer want dit is hoe ek my inkomste verdien,” het sy gesê.

Volgens haar kan die dokters ook nie vir haar ’n aanduiding gee van wanneer sy weer die volle gebruik van haar arms sal hê nie.

Anita en Armand het mekaar 12 jaar geken en was vyf jaar getroud. Hulle het drie kinders, Llewellyn (9), Weylin (7) en Shanté (3).

Anita Brits met haar kinders, Weylin, Shanté en Llewellyn.

“Dit het maar rof gegaan die laaste ruk en alles voel eintlik nog ’n bietjie onwerklik.

“Soms voel dit vir my of Armand soos gewoonlik van die werk af huis toe gaan kom,” het Anita gesê.

Armand het sy eie konstruksie besigheid gehad.

“Ek het ’n man, ’n swaer en ’n vriend op een aand verloor.

“Dit is ook ’n baie groot aanpassing vir die kinders en dit is noodsaaklik dat ek sterk bly vir hulle.”

Alyssa weet maar te goed watter stryd daar elke dag in haar vriendin, van skooldae af, woed.

Lajos en Armand het juis bevriend geraak deur die twee vroue, wat veroorsaak het dat die groep baie geheg aan mekaar was.

Alyssa en Lajos was 10 jaar saam en sou Dinsdag hul eerste huweliksherdenking gevier het.

Hulle kinders is Lalyssa (7), Liam (6) en Caiden (3).

Sy was die aand van die ongeluk tuis by die kinders.

Sy vertel van die angsvolle tyd wat gevolg het toe sy van die ongeluk te hore gekom het, maar dat sy nie 100 persent seker was dat Lajos in die voertuig was nie.

“Hy het geen vorm van identifikasie aan hom gehad nie en dit het ’n ruk geneem voordat dit bevestig kon word dat dit wel Lajos was wat ook dood is.”

Net soos haar vriendin, Anita, vind Alyssa dit moeilik om die werklikheid te aanvaar.

“Dit voel somtyds nog soos ’n droom vir my. Dit was vir die kinders net so erg, maar ek het mooi aan hulle verduidelik en hulle is nou ’n bietjie rustiger,” het Alyssa gesê.

“’n Mens kan nie die lewe of tyd terug draai nie, al wil jy hoe graag. Ek glo dat alles met die Here se wil gebeur en ons moet daarby berusting vind,” het sy bygevoeg.

Beide die vroue is in die tyd dankbaar vir hul onderskeie ondersteuningsnetwerke.

Anita sê dat die bystand van haar skoonma, Alette O’Neill, en haar skoonsuster, Bernadette van der Westhuizen, ongelooflik baie vir haar beteken.

Alyssa se groot dankbaarheid is teenoor Lajos se broer, Barend, en sy vrou, Charlene, wat haar en die drie kinders in hul huis geneem het na die ongeluk.

“Ek en my kinders is veilig en ek is baie dank verskuldig aan Barend en Charlene,” het sy gesê.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

 AUTHOR
Exit mobile version