Editor's choiceLocal newsNews

Hetta Pieterse van die Laerskool Dalview is in die kollig

Leer die mense van jou dorp ken.

Hetta Pieterse (72), die administratiewe beampte van die Laerskool Dalview tree na 22 jaar af. Hetta en haar man, Ferdi (73) woon vir die afgelope 46 jaar in Dalpark Proper. Hulle het twee seuns en ’n dogter asook twee kleindogters en twee kleinseuns.

• Jy was vir baie jare die “kantoortannie” by die Laerskool Dalview. Wat is die korrekte benaming vir jou pos en wat het jou pligte behels?

Ek was vir die afgelope 22 jaar en vier maande die “kantoor-/pleistertannie” by die skool maar is reeds vanaf 1979 verbonde aan die Laerskool Dalview. My drie kinders het hier skool gegaan en my man, Ferdi en my dogter, Annestie het ook hier skool gehou. My posbenaming is administratiewe beampte/assistent (sekretaresse). Ek het die ontvangs hanteer asook personeel aangeleenthede, leerder aangeleenthede, algemene navrae en ook die hoof met algemene administratiewe pligte bygestaan.

My pligte het verskeie aspekte gehad en ek moes te alle tye op hoogte wees van sake en verwikkelinge by die skool asook in die gemeenskap. Dit was vir my baie belangrik om te weet wat aangaan sodat ek te alle tye gereed en beskikbaar kon wees vir die personeel, ouers en leerders.

• Waar was jy werksaam voordat jy by die Laerskool Dalview begin werk het en wat het jy gedoen?

Ek werk al meer as 50 jaar, waarvan agt jaar by die destydse Transvaalse Werke-departement was, waar ek as tikster/klerk gewerk het. Daarna was ek 20 jaar die administratiewe klerk by die Brakpan Pre-Primêre Skool en toe het ek ’n Dalwer geword.

• Jy tree nou af, na meer as 44 jaar in die “onderwys-wêreld”. Wat gaan jy die meeste mis?

Ja, na 44 jaar as “kantoortannie” groet ek nou en ek gaan beslis my pragtige kinders, ouers en personeel baie mis. ’n Mens raak ontsettend geheg aan die mense want dit is met hulle wat jy daagliks jou lewe deel. Jy is bewus van elkeen se lief en leed en somtyds is ’n drukkie op die regte tyd en ’n pleister op die seer net wat hulle nodig het om weer aan te gaan; soms in moeilike omstandighede.

• Is daar ’n oomblik of ’n geleentheid wat vir altyd vir jou sal uitstaan?

Daar was soveel oomblikke in my tyd dat elke gebeurtenis uitstaan. Ek wil ons Hemelse Vader dank vir die geleentheid wat ek gehad het om my lewe te kon deel met soveel wonderlike mense – elkeen wat my pad gekruis het was vir my belangrik, spesiaal en ek sal hulle altyd koester en onthou in my hart.

• Waar was jou sagte plekkie? By die leerders of by jou mede-kollegas?

My spesialiteit en sagte plekkie was beslis by die kinders. Wat is lekkerder as hulle jou op die stoepe, speelgrond, by die kerk, in die mall of waar ook al sien en dan baie opgewonde kom groet en ’n drukkie gee? Daardie oggend-drukkies sal ek altyd onthou. Die hoof en personeel het ook ’n baie spesiale plek in my hart. Hulle is soos my familie, baie spesiaal.

• As jy alles weer kon oordoen, sou jy, of sou jy dit anders aangepak het?

Ek sou beslis weer dieselfde pad wou loop want dit was ’n pad saam met my Skepper en my medemens wat van my ’n beter mens gemaak het.

• Watter boodskap sal jy vir die ouers en die leerders van die Laerskool Dalview wil laat?

Aan ons Dalwer ouers en leerders wil ek sê dankie: dankie vir julle liefde, lojaliteit, belangstelling, respek en vriendelikheid. Dankie dat ons saam lekker kon lag en sommer net kuier en soms ook kon verskil ter wille van ons kinders. Aan my Dalwertjies, julle is die beste. Werk hard, wees ’n trotse Dalwer en wees te alle tye nederig.

• Hoe het skole deur die jare verander en is dit iets wat jou hartseer of opgewonde maak?

Ons skole het baie verander vandat ek in 1976 begin het as sekretaresse. Veranderinge is noodsaaklik sodat ons net beter kan raak. Die tegnologie dra ook by tot groot veranderings. Nie net in die admin nie maar ook in die klaskamer. Ons hier in Suid-Afrika moet positief wees oor die onderwys en die toekoms. Ek kan vreeslik opgewonde raak as ek sien hoe oudleerders presteer en dit, soms onder moeilike omstandighede. Dit is alles te danke aan uitstekende onderwysers en puik skole.

• Hoe gaan Hetta se dae nou daarna uitsien?

Ja, dit gaan ’n groot aanpassing wees om nie meer op te staan en te gaan werk nie. Maar ek dink soos die Here my die afgelope jare gedra het sal Hy my op nuwe paaie plaas waar ek ’n bydrae kan lewer en ook ’n verskil kan maak. Ek gaan ook my familie en veral my kleinkinders lekker bederf.

• Is daar enige planne om te verhuis en op ’n rustige plekkie te gaan nesskop?

Op die stadium bly ons Brakpanners, geen behoefte om elders te gaan nesskop nie. Brakpan is in ons bloed.

• Kook jy graag en wat is jou gunsteling gereg om te maak?

Ek is baie lief vir bak en brou en gaan beslis my talente weer herontdek soos om weer ’n lekker skaapskenkel-pot te maak vir my gesin en gaste en dan die gebruiklike sop en vetkoek in die winter.

• Verkies jy die see of die bosveld?

Ons as gesin is baie lief vir die see maar die bos bly bobaas vir ons. Ons is almal ‘wildtuin- en bos mal’.

• Wat sal ’n mens altyd in jou handsak vind?

Ja die liewe handsak het alles in wat nodig is – daardie ekstra spesiale pilletjie vir ’n moeë onderwyser of ’n kind wat se hartjie seer is en natuurlik die lipsalfie vir die seer lippies in die winter.

Lees ook: Laerskool Dalview se Thandi palm die medaljes in

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button