In die Kollig: Leer vir Zander Welding ken

Zander Welding van die Laerskool Brakpan-Oos is in die kollig die week.

Zander Welding (13) is vanjaar die hoofseun van Laerskool Brakpan-Oos. Sy ouers is Tewis en Nastassia Welding en hy het ’n ouer sussie, Simoné (15).

• Jy is die hoofseun van Laerskool Brakpan-Oos. Die eerste kwartaal is verby. Wat het vir jou uitgestaan en was daar ’n oomblik wat jy liewer sou wou vergeet?

Wat vir my uitgestaan het, was toe ek as mede-eersteplek wenner aangewys is by ons skool se interne redenaarskompetisie en dat ek tweede op die graad sewe Top 10 span is. Tot dusvêr was daar nog nie ’n oomblik wat ek graag sou wou vergeet nie.

• Wat maak van ’n mens ’n goeie leier?

’n Goeie leier bemagtig mense om saam met hom diensbaar te wees – Eksodus 18:25. ’n Goeie leier dwing gesag op ander op ’n taktvolle, maar tog ferm, manier af.

• Dink jy dit is belangrik dat skole leiers aanstel?

Ja, leiers help onderwysers om dissipline te handhaaf.

• As jy raad vir jonger leerders kon gee, wat ook graag hoofseun/meisie wil word, wat sal dit wees?

Wees altyd opreg, vriendelik, hulpvaardig en ’n goeie voorbeeld vir jou meerderes, gelykes en minderes. Moet nooit opgee om jou drome ’n werklikheid te maak nie.

• Die jaar is nog lank, waarna sien jy die meeste uit?

Om aan ons skool se graad sewe entrepreneursdag deel te neem en sodoende my entrepreneurskap te bevorder.

• Watter vak is vir jou die lekkerste en hoekom?

EBW (Ekonomiese Bestuurs Wetenskappe), want dit leer my om my geld beter te kontroleer en te bestee en om eendag ’n goeie entrepreneur van my eie besigheid te wees.

• Watter vak sal jy liewer ’n mis gee as jy kan?

Geskiedenis, want ons lewe nie in die verlede nie, maar wel in die hede en toekoms.

• Beoefen jy sport by die skool en dink jy dit is belangrik dat kinders aan sport deelneem?

Ek doen hoogspring en speel rugby vir my skool se eerstespan. Sport leer jou om gedissiplineerd te wees en dit leer jou om tot die einde te volhard. Sport verbeter ook breinfunksie.

• Dink jy daar is hoop vir die jong mense van hierdie land?

Ja, as ons almal as een nasie saam werk en verby velkleur en ras kyk, sal ons jeug ’n goeie toekoms in die mooie land van ons kan hê.

• As jy een wens het wat bewaarheid kon word, wat sou dit wees?

Dat ek nou al my bestuurderslisensie kan bekom.

• As jy vir een dag die president van die land kon wees, wat sou jou jy doen?

Om vir elke minder bevoorregte kind huisvesting, kos en die kans tot onderrig te gee.

• Het jy al besluit wat jy eendag wil word?

Siviele of meganiese ingenieur, maar nou wil ek eers net groot word en my jong lewe geniet.

• Wat laat jou sommer lekker lag?

Polly, ons African Grey en Andries Vermeulen se grappies.

• Wat maak jou baie gou kwaad?

Wanneer iemand aan my versameling modelkarretjies vat en met dit speel of rondskuif.

• Jy moet vir twee weke op ’n eiland gaan bly en jy mag net vyf items saam neem. Wat sal dit wees?

Kos, water, slaapsak, modelkarretjies en Polly.

Lees ook: Laerskool Dalview se Thandi palm die medaljes in

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Exit mobile version