CrimeEditor's choiceNews

Die `boer’ is niks anders as ‘n skelm

Die personeel van Rata Maatskaplike dienste, ‘n welsynsorganisasie wat reeds gebuk gaan onder moeilike omstandighede, is Vrydag lelik ingeloop.

‘n Man, wat homself voorgedoen het as ‘n boer, het met ‘n belofte van ‘n groot skenking van vleis na vore gekom maar dit blyk nou dat hy net een doel voor oë gehad het, en dit was om die organisasie in te loop.

Volgens Naomi Mostert van Rata het  die man, wat homself as Daan Botha voorgestel het, vroeg Vrydagoggend gebel.

“Hy het gesê dat hy die eienaar van ‘n boerdery op die Heidelbergpad is en dat hy twee skape en bees aan ons wou skenk,” het Mostert gesê.

“Volgens hom het een van sy groot koelkamers onklaar geraak en moes hy dringend van die vleis ontslae raak.

“Ons moes net iemand met ‘n bakkie stuur om die vleis te gaan haal.

“Natuurlik het ek die skenking verwelkom en gereël dat my man en swaer die vleis gaan haal.

“Die vriendelike en weldoener het weer gebel en gevra vir my swaer se selfoonnommer aangesien hy aanwysings aan hulle wou deurgee.

“Hy het  daarna my swaer gebel en gevra of hy R1000 se lugtyd vir hom kan koop met die belofte dat hy die kontant dadelik aan hom sou terug gee sodra hulle op die plaas kom.

“Hulle het steeds nie onraad vermoed nie en R550 se lugtyd gekoop, aangesien hulle net soveel kontant  by hulle gehad het.
“Die bedagsame boer het weer gebel en gevra of hulle solank die pin-nommers aan hom kan stuur aangesien hy dringende oproepe moes maak.

“Wel dit is gedoen en net daarna kon die gawe skenker nie meer bereik word nie,” het Mostert gesê.

Lees ook: Rata het hulp nodig

Alle pogings om hom te kontak was onsuksesvol.

“Ons het besef dat ons lelik ingeloop is deur die kamstige `boer’”, het Mostert gesê.

Sy het die voorval by die SAPD aangemeld en ook ander welsynsorganisasies gewaarsku om nie in dieselfde strik te trap nie.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button