CrimeEditor's noteNews

Kapers probeer vrou se splinternuwe kar vat

Twee gesinne van die dorp het verlede week in afsonderlike voorvalle angsvolle oomblikke beleef toe hulle die teiken van motorkapers was.

Beide die voorvalle het verlede Dinsdagaand in Minnebron plaasgevind.

In die eerste voorval is ’n 40-jarige vrou byna van haar splinternuwe Hyundai Tucson beroof toe sy net na 7nm voor haar ma se huis in Davystraat stilgehou het.

Sy het die voertuig vroeër die middag in ontvangs geneem.

“Ek het my kinders (12 en 17 jaar) by my huis, ook in Minnebron, gaan oplaai waarna ons na my ma se huis gery het.

“Ek het in die oprit voor my ma se huis stilgehou en gewag dat sy die hek oopmaak.”

Volgens die vrou het ’n voertuig verby gery en agter haar stilgehou.

Sy vertel dat twee gewapende mans uitgespring het.

“Een van die mans het na my gehardloop en ’n vuurwapen teen my maag gedruk.

“Hy het in Afrikaans gesê dat ek my kar se sleutels aan hom moes oorhandig.

“Ek het vir hom gesê dat ek dit sou doen, maar eers as my kinders uit die kar is.

“Alles het baie vinnig gebeur. Die ander rower was op dié stadium aan die die passasierskant van die voertuig.

“My ma het die deure vir die kinders oopgemaak en hulle het in die pad afgehardloop.

“Die tweede rower het my toe aan die arm beetgekry en probeer om die sleutels uit my hand te ruk.

“Ek het hard begin skreeu en my kinders het in tussentyd ook om hulp begin roep.

“Mense het uit hul huise begin kom en genadiglik het die twee rowers die stryd gewonne gegee en in hul voertuig gespring en weggejaag.

“Soveel dinge het op daardie stadium deur my kop gegaan.

“Daar was deurentyd ’n vuurwapen teen my maag maar my eerste prioriteit was die veiligheid van my kinders.”

Lees ook: SAPS issues warning after rocks thrown at cars

In die tweede voorval het ’n 48-jarige man en sy 45-jarige vrou by hul huis in Pieter du Plessisstraat aangekom nadat hulle by die kerk was.

Hul 18-jarige seun was in die huis.

“Ek het in die oprit stilgehou en my vrou was besig om uit te klim om die hek oop te maak toe ’n voertuig, wat van voor af aangekom het agter ons stilgehou het.

“Drie mans het dadelik uitgespring. Twee het na my kant gehardloop en die ander een is na my vrou se kant.

“My vrou het probeer weghardloop maar die rower by haar het haar gegryp en gesê sy moet stilbly.

“Een van die rowers, aan my kant, het ’n vuurwapen teen die motorruit gedruk.

“Hy het niks gesê nie en met handgebare aangedui dat ek moet uitklim.

“Die ander rower, wat met ’n mes gewapen was, het my van agteraf beet gekry en deur my sakke begin soek.

“Ek het my teëgesit en begin skreeu in ’n poging om my seun en skoonma, wat in die huis was, se aandag te trek.

“Dit het gewerk want die drie rowers het na hul voertuig gehardloop en weggejaag.

“Alhoewel die hele voorval soos ’n ewigheid gevoel het, het alles blitsvinnig gebeur.

“Dit is vir my noodsaaklik om te noem dat hierdie mense ons nie agtervolg het nie.

“Hulle het van voor af aangery gekom en hul kans waargeneem toe ons stilgehou het.

“’n Mens is geneig om te dink dat kapers jou agtervolg maar dit is nie noodwendig die geval nie.”

Kapt Peet van der Schyff van die Brakpan SAPD het die volgende raad gegee aan inwoners wat in ’n kapingsituasie beland.

• Dit is baie belangrik om kalm te bly en nie met die kaper te stry of argumenteer nie.

• Moet nie vinnige bewegings maak nie en vermy oogkontak.

• Voldoen (binne rede) aan die kaper se versoeke.

• Onthou dat ’n voertuig en persoonlike besittings vervang kan word maar nie ’n lewe nie.

Hy het bygevoeg dat dit raadsaam is om voorkomend op te tree deur die volgende in gedagte te hou.

• Wees oplettend, veral wanneer jy naby jou huis kom.

• Maak seker dat die oprit goed belig is en verwyder struike of bome wat ’n wegkruipplek vir kapers kan bied.

• Installeer ’n anti-kapings toestel in jou voertuig.

• Probeer om nie by ’n spesifieke roetine te bly nie. Motoriste wat elke dag die huis op ’n spesifieke tyd verlaat en terugkeer is maklike teikens.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button