Skool werp lig op leerder wat ure lank vermis was

’n Graad 10-leerder aan die Hoërskool Stoffberg, wat Dinsdagmiddag na skool nie by haar huis opgedaag het nie, het ’n groot oproer op sosiale media laat ontstaan toe sy as vermis aangemeld is.

Bekommerde belangstellendes het na die leerder gesoek en die verbasing was baie groot toe sy uiteindelik, in die vroeë oggendure van Woensdag (7 Februarie), in die administratiewe gebou van die skool gevind is.

Die nuus dat die leerder in die siekekamer van die skool “toegesluit” was het soos ’n veldbrand versprei. Talle vingers is dadelik na die skool gewys.

Die skool het gister ’n volledige verklaring, wat die situasie verduidelik, uitgereik.

Dit is soos volg:

Graag gee Hoërskool Stoffberg die korrekte feite aangaande die saak oor die vermiste dogter op 6 Februarie 2018.

Hierdie leerder het omstreeks 10vm haar eerste afspraak met die skool se berader nagekom. Omdat sy nie goed gevoel het na haar sessie nie, is sy toegelaat om in die siekekamer te wag vir haar opvolgsessie. Voor haar opvolgsessie is sy ingelig dat as sy nog sleg voel na haar laaste sessie kan sy aanmeld in die kantoor sodat haar ouers gekontak kan word om haar te kom haal.

Na haar laaste sessie het die berader haar kantoor toe gestuur om uit te teken, wat die leerder nie gedoen het nie.

Haar ouers het omstreeks 4nm vir die hoof, Koos Boshoff, in sy kantoor kom sê dat die leerder nooit by die huis uitgekom het nie en of hulle haar op die skoolterrein mag gaan soek, waarvoor die hoof toestemming toegestaan het. Die hoof het so 20 minute gewag, die kantore gesluit en huis toe gery.

Omstreeks 6nm het die hoof terug skool toe gegaan waar hy ’n metro-polisieman en twee lede van die buurtwag by die hek gekry het wat hom ingelig het dat hulle ook na die leerder soek. Die hoof het daarna die kantoor weer oopgesluit en haar maats gebel om te hoor of hulle enige iets weet. Haar maats het niks geweet nie.

Hierna het ’n onbekende man die hoof versoek om vir hom ’n sleutel te gee om in al die klasse te gaan soek vir die leerder. Die hoof het hom egter verseker dat elke personeellid sy/haar eie klas sluit as almal verdaag het aan die einde van die skooldag. Sou die kind wel in ’n klas wees kon sy net deur ’n ruit klim na buite of om hulp roep omrede daar leerders en personeel nog tot 8nm by die skool was.

Presies 1.54vm het die hoof wakker geword deur ’n boodskap dat die skoolalarm geaktiveer het en dat dit in die kantoorarea is. Die hoof het onmiddellik skool toe gery en by sy aankoms was die skool se alarm- en sekuriteitsmaatskappy, asook die leerder se ouers en ’n lid van die polisie reeds by die skool. Hulle het hom ingelig dat die leerder in die voorportaal van die kantoorblok is. Die hoof het die kantoor oopgesluit waarna die ouers die kind onmiddellik geneem het voordat sy vir enige iemand kon sê wat gebeur het.

Dit is vir die skool onverstaanbaar dat hierdie leerder sonder toestemming teruggegaan het na die siekekamer, die deur toegetrek het en nooit gereageer het toe daar afkondigings aan die einde van die skooldag gemaak is, afgesluit is, die klok gelui het en die res van die leerders hulle staal sluitkassies reg langs die siekekamer besoek het voor hul huis toe is nie. Die kantoorblok was nog oop en daar was beweging in die kantoor van kinders en personeel tot omstreeks 4.20nm toe die hoof huis toe is en weer tussen 6nm en 8nm toe die graad agt leerders hulle konsert geoefen het. Die skool wil dit duidelik stel dat die siekekamer se deur nie gesluit word nie.

Lees ook: Stoffberg se hoofleiers is reg vir 2018

Hiermee hoop ons dat alle onduidelikhede en wanpersepsies oor die saak uit die weg geruim is want Stoffberg gee om vir elke kind in ons skool, want hulle is vir ons kosbaar.

Volg ons:

Instagram

Twitter

Facebook

Exit mobile version