CrimeNews

Ma smeek vir genade toe kaper vuurwapen teen kind (14 maande) se kop druk

Wendy Venter (34) van Dalview het haar seuntjie, Kian net na 5nm by sy dagsorgsentrum in Brakpan-sentraal gaan oplaai toe die traumatiese voorval plaasgevind het.

Die ma van ‘n 14-maande oue seuntjie het gistermiddag (Woensdag) angsvolle oomblikke beleef toe ‘n kaper eers ‘n vuurwapen op haar gerig het en daarna die wapen teen haar kind, wat in haar arms was, se kop gedruk het.

“Ek was reeds by my motor, ‘n wit Hyundai Atos, toe ek ‘n man  aangestap sien  kom,” het Venter vertel.

“Hy het oor die pad reguit na my toe geloop en toe hy by my was het hy ‘n vuurwapen op my gerig.”

“Ek het groot geskrik en begin skreeu, waarna hy die vuurwapen teen my kind se kop gedruk het.”

“Ek het begin smeek dat hy net nie my kind moet seermaak nie. Die man het toe die motorsleutel uit my hand gepluk en weggejaag.”

Lees ook: Diewe maak steeds Kersgeskenke bymekaar

Die eienaar van die sorgsentrum het Venter en haar kind te hulp gesnel en ook ‘n sekuriteitsmaatskappy deur middel van ‘n paniekknoppie, ontbied.

Die voertuig is sowat ‘n halfuur later verlate in Brakpan-Noord gevind.

Venter se persoonlike besittings, wat in die voertuig was, is gesteel.

“Dit was ongelooflike angsvolle oomblikke en ‘n mens voel baie magteloos. Ek is baie dankbaar dat ek en my kind niks oorgekom het nie.”

Venter het almal bedank wat haar bygestaan het.

Die voorval word deur die Brakpan SAPD ondersoek.

Related Articles

Back to top button