Junél is Stoffies se uitblinker

Top matrikulant se toekoms lyk blink na sewe onderskeidings.

Junél Levin, die Hoërskool Stoffberg se top matrikulant vir 2017, het Vrydagoggend rustig vertel dat sy baie in haar skik is met haar uitslae en dat sy uitsien na die toekoms.

Dié mooi donkerkop het sewe onderskeidings behaal in Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, rekeningkunde, besigheidstudies, ekonomie en rekenaartoepassingstegnologie. Sy het ’n onderskeiding in wiskunde met slegs een persent misgeloop.

Sy gaan B.Com Rek aan Tukkies studeer om haarself uiteindelik as ’n geoktrooieerde rekenmeesters te bekwaam.

“My droom is om eendag ’n suksesvolle besigheidsvrou te wees,” het sy gesê.

Lees ook: Do your homework before school starts

Junél het bygevoeg dat goeie resultate nie vanself kom nie en dat sy hard gewerk het om die onderskeidings te kon behaal.

“’n Mens moet vroeg reeds skouer aan die wiel sit. Dit help nie om eers in jou matriekjaar wakker te skrik nie.”

Haar raad aan die matrieks van 2018 is om van die begin af hard te werk.

“Dit is ook uiters belangrik om op God te vertrou en Sy hand te vat vir die pad wat jy moet stap,” het sy bygevoeg.

Follow us:

Instagram

Twitter

Facebook

Exit mobile version