In die kollig

Leer Kersvader ken.

Kersvader is hierdie tyd van die jaar geen onbekende nie. Dié vriendelike man met die spierwit baard en kenmerkende rooi pak woon in die Noordpool en hy is druk besig om geskenke by huise van kinders, wat deur die jaar soet was, af te lewer.

• Jy het ’n ongewone vervoermiddel. Vertel so bietjie meer daarvan.

Ek reis deur die lug op ’n slee wat deur my rendiere getrek word. Hulle name is  Dasher, Dancer, Prancer, Vixen, Comet, Cupid, Donner, Blitzen en Rudolph. Elkeen van hulle het sy eie unieke persoonlikheid. Hulle werk hard gedurende Desember en die res van die jaar neem hulle ’n welverdiende blaaskans.

• Watter van jou rendiere is jou gunsteling?

Ek sal nooit kan kies nie. Elkeen is vir my baie spesiaal. Ons stap al ’n baie lang pad saam.

• Het jy ’n ander vervoermiddel behalwe jou slee?

Nee wat, ek het geen behoefte daaraan om op enige ander manier te reis nie.

• Het jy al ooit in ’n skoorsteen vasgesit?

Darem nog nooit nie. Ek het gelukkig jare se ondervinding. Daar is nie veel huise in Suid-Afrika met skoorstene nie, so dit maak my werk so bietjie makliker. Dit is baie meer gerieflik om by ’n deur in te gaan, eerder as deur ’n ongemaklike skoorsteen. Ek moet natuurlik ook my gewig dophou anders kan ek maklik vassit.

• Wat is jou gunsteling kos?

Koekies, ek is dol oor enige koekies en ek hou daarvan om dit met melk af te sluk.

• Jy kry elke jaar seker miljoene briewe van kinders met versoeke. Wat is die mees algemene geskenk waarvoor kinders vra?

Dit verskil regtig van jaar tot jaar en dit hang gewoonlik af van wat op die oomblik gewild is. Baie kinders vra ook vir ’n troeteldier.

• Dra jy enigiets anders as jou rooi pak?

Ek het ander uitrustings ook maar wanneer ek in die openbaar verskyn sal dit altyd in my rooi pak wees. Ek het darem ’n hele paar daarvan.

• Was Brakpan se kinders vanjaar soet of stout gewees?

Hulle was almal so soet soos stroop. Hulle is rêrig ’n oulike klomp kinders.

• Gaan jy ooit op vakansie?

Nee wat. Ek is so bekend almal gaan my erken waar ook al ek gaan so ek bly maar liewer by die huis.

• Dit lyk nie of jy ooit ouer word nie. Wat is jou geheim?

Die werk wat ek verrig verskaf vir my so baie plesier en ek glo dit is wat my jonk en aan die gang hou. Om gelukkige mense te sien, veral oor die Kersseisoen, is die beste ding ooit.

• Kry jy ooit Kersgeskenke?

Ja, ek kry nogal baie. Vreemde geskenke ook, soos ’n paar grys sokkies met pienk sterretjies daarop.

Lees ook:

‘May this festive season be one of reflection’ – mayor

Municipal offices to close for the holidays

Solidariteit Helpende Hand bring Kersvreugde

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Exit mobile version