Tiener (14) met vuurwapen aangehou tydens huisroof

Die manlike rower het die seun met ‘n vuurwapen naby die motorhuis aangehou.

Vyf mense wat hulself voorgedoen het as werknemers van die Ekurhuleni Metro het gistermiddag ‘n 14-jarige tiener in sy ouerhuis met  vuurwapens aangehou en weggekom met goedere ter waarde van ongeveer R8000 .

Die voorval het omtrent 2.30nm in De Wetstraat, Brenthurst plaasgevind.

Volgens die seun se pa (41) was hy alleen by die huis toe ‘n wit Renault Duster met drie mans en twee vroue in die oprit van die huis stilgehou het.

“Een vrou en een man het uitgeklim. Hulle het deur die hek vir my seun gesê dat hulle van die Ekurhuleni Metro is en dat hulle na sekere dinge in die huis moet kyk

“My seun het vir hulle gesê dat hy nie vir hulle gaan oopmaak nie, aangesien hy nie deur ons ingelig is van so ‘n besoek nie.

“Op dié stadium het die man en die vrou vuurwapens te voorskyn gebring en in Afrikaans vir my seun gesê dat hy vir hulle moet oopmaak.”
Die manlike rower het die seun met ‘n vuurwapen naby die motorhuis aangehou terwyl die vrou met ‘n groen sak in die huis gegaan het.

“Sy was net sowat drie minute in die huis, waar  sy onder meer  selfone, ‘n tablet en juweliersware gevat het,” het die pa gesê.

Die seun se selfoon is ook afgeneem. Nadat die vyf booswigte weggery het, het die kind hulp by die bure gaan ontbied.

Volgens sy pa is hy ongedeerd maar getraumatiseerd gelaat na die voorval.

Die voorval word deur die Brakpan SAPD ondersoek.

Lees ook:

Huisrowers skiet ma dood, wond seun ernstig in Anzac

Rowers teiken nog ‘n ma met kind in stootwaentjie

‘Ek moes my tande insluk om te kon aanhou asemhaal’ – slagoffer van gewelddadige aanval vertel

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

 

Exit mobile version