Opvolg: Huisrowers skiet ma dood, wond seun ernstig in Anzac

'n Saak van moord, poging tot moord en huisroof ondersoek word.

Kapt Pearl van Staad, woordvoerder van die Brakpan SAPD het vanoggend (Sondag) bevestig dat die persone wat verantwoordelik was vir die moord op ‘n 63-jarige vrou van Anzac steeds op vrye voet is.

Volgens van Staad het sekuriteitspersoneel van ER24 Saterdag  in die vroeë oggendure gereageer op ‘n paniekknoppie wat vanuit ‘n huis in Edwardstraat,  Anzac geaktiveer is.

Van Staad het gesê dat die sekuriteitsbeamptes opgemerk het dat ‘n klein palisade hekkie oop geforseer is.

Daar is  glo op die sekuriteitspersoneel geskiet, waarna vermoedelik vier verdagtes op die vlug geslaan het.

“Toe lede van die SAPD op die toneel aankom is die vrou aangetref met ‘n koeëlwond in haar nek en was sy reeds oorlede,” het van Staad gesê.

“Haar seun (ouderdom onbekend) is met kopbeserings na ‘n hospitaal vervoer.”

Van Staad het bygevoeg dat die motief van die voorval nie bekend is nie en dat ‘n saak van moord, poging tot moord en huisroof ondersoek word.

 

Lees ook:

Gun suspect linked to robbery

Daily crime watch

Inwoner geskiet toe hy ondersoek instel na geraas buite sy huis

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

 

Exit mobile version